Skip to main content

BESEF JY DAT KERSFEES MET AL 5 ONS SINTUIE ERVAAR WORD?

Dalk is dit juis daarom dat kinders so ekstra opgewonde kan raak oor Kersfees! Gesels saam in jul gesin hieroor en ontdek hoe julle Kersfees kan sien, hoor, voel, ruik en proe!

  1. SIEN – Watter “tekens” herinner jou aan Kersfees?
  2. HOOR – Wat is jou gunsteling Kersliedjie?
  3. VOEL/RAAK – Wat laat jou veilig en rustig voel in Kerstyd: ’n kombers / grasperk / warm sonskyn / koel water / sand tussen jou voete?
  4. RUIK – Watter reuk herinner jou aan Kersfees?
  5. PROE – Watter eetding proe vir jou soos Kersfees?

Uitdaging:

  1. SIEN (oë) – Rig voor Kersfees saam tekens op in jul huis/vakansieplek wat julle herinner aan die boodskap van Kersfees. Wees oorspronklik en raak kreatief! Verduidelik die simboliek van Kersfees vir kinders… boom (nuwe lewe), geskenke (wyse manne se geskenke, Jesus se geskenk van die ewige lewe), ster (Betlehem ster), liggies (Jesus is die Lig), engele (en herders), rooi (Jesus), goud en silwer (koninklike kleure)
  2. HOOR (ore) – Luister saam na Kersliedjies en sing saam! Luister ook na mekaar se stories en herinner mekaar aan julle familie storie. Vertel die Kersverhaal (ook op nuwe maniere) vir mekaar. Besluit saam of julle nuwe Kerstradisies wil deelmaak van julle storie hierdie jaar.
  3. VOEL/RAAK (hande) – Wat kan julle as gesin hierdie Kersfees doen om iemand anders te help? Dink aan iets wat jul prakties vir iemand anders kan doen. Bak saam koekies of skenk klere of besoek iemand wat dit nodig het. Wees ook bewus van hoe julle diensbaar kan wees aan mekaar.
  4. RUIK (neus) – Wees bewus van die Here se Gees in klein dingetjies soos die reuk van kaneel / skulpe / koekies / koffie. Sê vir Hom elke dag saam dankie vir al die Kersfeesvreugdes en herinneringe.
  5. PROE (tong) – Bid elke dag vir iemand / noodsituasie. Gebruik ook jou tong om mooi woorde te sê wat ander opbou en getuig van God se liefde. Wees eerlik en opreg. Gee vir almal geleentheid om vir mekaar komplimente te gee.