Skip to main content

 

Sinode Wes-Kaapland

Donderdag 16 Mei 2019

Droom saam met Jong Volwassenes oor die Kerk van die Toekoms

Hier is al die materiaal wat nodig is vir hierdie aanbieding:

Indien jy sukkel om die materiaal af te laai of te druk, kontak ons by [email protected] – ons help graag!

 

Inleiding

1:         Goeiemôre en baie welkom. Ons nooi julle uit: “Verbeel jou die kerk van die toekoms saam met Jong Volwassenes”. Ons wil julle namens die Jong Volwasse Leer Gemeenskap nooi om vanoggend saam met ons te droom. Ons gaan saam alles op die tafel gebruik. Neem eers die oorvou boekie en blaai na bl XX na die teksgedeelte.

Ons lees saam uit Handelinge 2.

Die fokus teks is vers 16-18 waar Petrus aan die woord is en die uitstorting van die Heilige Gees verduidelik aan Jode en nie-Jode wat bymekaar is.

2:         Die geloof gemeenskap is weereens in ‘n tyd van transformasie. Na die koms van Jesus breek ‘n nuwe era aan. Israel weet wat dit beteken om radikaal nuut te dink oor die plek, ruimte en aard van aanbidding:

  • Hulle het al Slawehuis-geloof in Egipte beleef én aanbid in die Woestyn-tabernakel.
  • Hulle het al die glorieryke Tempel-godsdiens in Jerusalem beleef sowel as nederige Tempel lose godsdiens in Babilonië.
  • Nou word ‘n nuwe kerk gebore kort na die uitstorting van die Gees…

1:         Ek lees vanaf vers 16:

Hier gebeur wat God deur die profeet Joël gesê het:

“Só sal dit in die laaste dae wees, sê God: Ek sal my Gees uitstort op alle mense: julle seuns en julle dogters sal as profete optree;

julle jongmense sal gesigte sien; julle oumense sal drome droom.

Ja, op my dienaars en my dienaresse sal Ek in daardie dae my Gees uitstort, en hulle sal as profete optree.”

Inleidende voorlesing:

2:         Almal kan en moet droom oor die toekoms – oor ‘n nuwe kerk vir ‘n nuwe tyd…en almal word ingenooi en ingesluit deur die Gees om saam te droom:

1:         Mans ÉN vroue; seuns EN dogters

2:         Middeljariges MAAR OOK Bejaardes, jong volwassenes, tieners en kinders

1:         Die wat bedien word EN die wat dienaars is

2:         Die wat gewoonlik gehoor en gesien word, MAAR OOK die minstes, die randfigure en die stilles

1:         Groot en klein, alles nasies, Jode en nie-Jode, ALMAL kan drome droom, en gesigte sien

Belangrik EN minder belangrike mense kan profete wees

Dit alles is moontlik as gevolg van die uitstorting van die Heilige Gees.

2:         Die Gees plant die saadjies van kreatiwiteit in ons elkeen;

Die Gees help ons om te luister, te onderskei en risiko’s te neem. En die saad water te gee.

1:         Die Gees skep verbeelding en laat die saad groei.

2:         Die Gees gee vir ons waagmoed hiervoor…

1:         Om soos ‘n sweefstok-artiste deur die lug te kan vlieg, moet ons ons eers kan verbeel ons het vlerke en moet ons met geloofsoë ons kan uitstrek na wat voor is wat ons nie kan sien nie. Ons moet kies om dit wat bekend is en veilig voel, agter te laat.

2:         Ons moet met verbeelding ons uitstrek na wat voor ons lê  – ons kan en moet met waagmoed en dapperheid vorentoe kyk…

1:         En dan moet ons spring!

2:         Kom ons bid saam. Here, gee ons die waagmoed deur U Gees om met verbeelding te droom oor U kerk, die kerk van die toekoms. Amen

1:         Ons kyk na ‘n eerste video snit van hoe een gemeente buite die kerkmure ruimte gemaak het vir jong volwassenes om te gesels oor geloofsvrae…

___________________________________________________________________________

Wys VIDEOSNIT 1: Cappuccino Kerk (3min)

___________________________________________________________________________

Inleiding van die tema m.b.v. Sjokolade metafoor

Hoe gaan ‘n kerk lyk vir die komende generasie?

Wanneer ons dink aan die kerk van die toekoms en ons dink aan kerk-wees buite die kerkmure / buite die tradisionele styl / buite die boks,

Moet ons erken dat dit vir ons soms baie moeilik is

Want ons is gewoond aan ons kerk soos ons dit ken en ons is lief vir ons kerk

En daarom kan dit gebeur dat ons krampagtig bly vaskleef aan ons eie styl, taal en gemaksone ten koste van ander.

Daarom moet ons die Gees vertrou om ons te help vlieg

om ons eie selfsug raak te sien en weer opnuut deur die evangelie gedwing te word om ons taak met erns op te neem om kerk te wees ter wille van dié buite die kerkgebou.

Ons moet die Gees vra om ons weer te vul met ‘n liefde vir alle mense en ons te help om met waagmoed te droom en met verbeelding te eksperimenteer oor ‘n kerk wat ‘n tuiste bied vir ‘n nuwe generasie in ‘n nuwe konteks.

Hoe lyk die kerk van die toekoms?

  • Kerk van die toekoms kan nie gesien word nie, ons weet nie een hoe dit presies gestalte gaan vind nie
  • Maar wanneer ons met verbeelding nuwe maniere vind om geloof te leef en te deel, kan ons so ‘n stukkie van die toekomstige kerk reeds begin “proe” en dit met mekaar deel.

Neem nou elkeen ‘n sjokolade wat voor jou lê. Elkeen het ‘n ander soort sjokolade ontvang.

  • Gebruik nou jou sintuie om te raai watter soort sjokolade joune is- jy mag proe daaraan en selfs uitruil met mekaar om nog opinies in te win. Wat ruik jy, wat proe jy, wat neem jy waar?

(Gee tyd hiervoor)

Hier is die soorte sjokolade: kyk of jy reg was!!

  • Crunchy Biscotti
  • Almond Milk
  • Raspberry, Vanilla and Almond
  • Cinnamon Blonde
  • Peppermint and Macadamia
  • Honey Comb
  • Sea Salt and Caramel

Ons kry leidrade deur nuwe dinge te probeer, te eksperimenteer en te waag

Daarom is dit so belangrik dat daar in elke konteks vars gedink sal word

En dat ons almal stories en ervaringe sal proe en deel met mekaar

Want dit help ons om nuwe moontlikhede te verbeel

Die Jong Volwasse Leer Gemeenskap se navorsing

Wie is die JVLG?

Die Moderamen van die Wes Kaapland sinode het vir die Taakspan Jeug en Familiebediening opdrag gegee om te kyk na die bediening aan jong volwassenes omdat dit juis een ouderdomsgroep is wat die kerk sukkel om te bedien en te behou.  Die Jong Volwasse Leer Gemeenskap is gestig en bestaan uit predikante wat met hierdie ouderdomsgroep werk of self jonk is. Die Jong Volwasse Leer Gemeenskap het vir net meer as ‘n jaar navorsing gedoen deur te lees wat wêreldwyd oor dié groep/geloof/kerk bevind is, sowel as om dit te vergelyk met Suid Afrikaanse navorsing en stories wat versamel is.

Hierdie jaar is die JVLG uitgebrei deur ‘n Gemeente Netwerk te stig in 3 sinodes, naamlik Wes-Kaapland, Natal en die Oos-Kaap.  30 gemeentes in die netwerk is tans besig om deur ‘n begeleide proses te gaan om vars “uit die boks” bedienings aan, deur en met jong volwassenes te begin wat eksperimenteer met alternatiewe vorms van “kerkwees”. Ons gaan baie by hierdie gemeentes leer oor hoe die kerk van die toekoms gaan lyk.

Wat sê die navorsing resultate, stories en leeswerk?

In kort is dit opgesom op bl. 5 van jou oorflap boekie.

Daar is ‘n groot aantal jongmense in elke gemeenskap wat in die kerk groot geword het.  Van hulle is daar ongeveer 60% wat nie meer kerk bywoon of aktief hulle geloof beoefen nie hulle word beskryf as VERDER van die kerk. Hierdie syfer wissel in elke konteks. Dit is nie bloot ‘n fase wat verby gaan gaan sodra hulle kinders kry nie. Hierdie is die eerste generasie wat nie weer gaan terugkeer nie.

Die 3 groot redes hiervoor is:

  1. Soeke na wysheid – Sommige het seergekry in die kerk of is op soek na antwoorde. Hulle soek na die toepaslikheid en sinvolheid van hulle lewe en geloof.
  2. Soeke na roeping – sommige kan nie die kerk/geloof/die Bybel aan hulle werk en roeping verbind nie en dit raak dus irrelevant in hulle leefwêreld.
  3. Soeke na gemeenskap – Sommige vind gemeenskap elders – kerk/geloof is dus nie ‘n prioriteit nie.

Uit die groep wat steeds aktiewe christene is en kerk bywoon (beskryf as NADER aan die kerk), is daar ook 3 groepe geïdentifiseer:

  1. Daar is ‘n groep wat nie meer in die NG Kerk tuiskom nie, maar wel in ‘n ander denominasie ‘n heenkome gevind het. Hiervoor is verskeie redes geïdentifiseer.
  2. Daar is aktiewe lidmate wat wel in die NG Kerk bly en deelneem aan aktiwiteite. Hulle het egter verskeie behoeftes wat aangespreek moet word sodat hulle ruimte het om te groei, te aanbid en te dien.
  3. Daar is ‘n groep lidmate wat passief en onbetrokke is. Hiervoor is daar ook verskeie redes.

Dit is dus belangrik om nie oor hierdie ouderdomsgroep te veralgemeen nie. Maar dat dit belangrik is dat as ons die meerderheid wil bereik, ons nuut sal moet dink oor kerk-wees.

___________________________________________________________________________

9 leidrade vir die pad voorentoe

Die navorsing en verhale wys dat daar 9 eienskappe is van hierdie generasie is, wat as leidrade kan dien om ons te help om nuut en vars te dink oor die kerk van die toekoms:

Dit is op bl. 7 van jou oorflap boekie.

Verhoudings – jong volwassenes soek diepgaande, opregte verhoudings. Die kerk van die toekoms skep ruimtes hiervoor, ook buite die kerkmure.

Roeping –die nuwe generasie wil hê dat hulle lewe betekenis moet inhou, Die kerk van die toekoms help mense om deur hul beroep en lewe ‘n praktiese verskil te maak in die wêreld.

Wysheid – die kerk van die toekoms is ‘n plek waar mense van verskillende ouderdomme hul ervarings kan deel en antwoorde saam kan soek.

Verantwoordbaarheid – jonger mense eis deursigtige sisteme en etiese leierskap. Die kerk van die toekoms bevorder deelname en verantwoordbaarheid.

Broosheid – die kerk van die toekoms is eerlik oor haar eie gebrokenheid en omarm intensioneel broosheid.

Leierskap  – jong mense wil ruimte hê om inisiatief te kan neem en die kerk van die toekoms bevorder diverse leierskapstyle.

Diversiteit – die kerk van die toekoms reflekteer die samelewing en vier diversiteit sodat almal kan tuiskom.

Spiritualiteit – Jong volwassenes soek ‘n ruimte om ‘n eietydse uitdrukking van geloof te vorm en uit te leef. Die kerk van die toekoms bevorder spiritualiteit, veral buite die kerkmure.

Egtheid – die kerk van die toekoms skep geleenthede in die geloofsgemeenskap om moeilike kwessies eerlik te kan bespreek sonder om te oordeel of vinnige antwoorde te gee.

Kom ons kyk na ‘n tweede videogreep wat wys hoe jong volwassenes van hierdie eienskappe buite die kerk vind…

___________________________________________________________________________

Wys VIDEOSNIT 2: Bike Buddies (3min)

___________________________________________________________________________

Tafelgesprekke oor die 9 leidrade m.b.v.die boekies

Verduidelik die gesprekke om tafels m.b.v. boekie

Hierdie 9 leidrade gaan ons nou as 9 tafelgaste hanteer. Verbeel jou elke gas om die tafel is deel van die kerk van die toekoms. Elkeen van die 9 persone om die tafel verteenwoordig ‘n eienskap van dié toekomstige kerk. Kom ons luister na al die gaste om die tafel en dink na oor elkeen van hierdie leidrade (of ‘n paar soos wat die tyd ons toelaat). Hierdie is ook ‘n oefening wat elke kerkraad en kleingroep kan doen m.b.v. hierdie oorflap boekie.

Ek gaan eers verduidelik hoe dit werk en dan kan julle begin met die gesprek.

Elkeen blaai nou na ‘n ander eienskap. Begin by die tafelleier wat die eerste eienskap “verhoudings” neem. Die tafelleier blaai na die eienskap en plaas dit voor jou. Die woord verhoudings wys na buite, na die res van die groep om die tafel, terwyl die gespreksvrae oor verhoudings na jou toe wys.

Beweeg dan links om en blaai om in die boekie sodat elkeen ‘n daaropvolgende eienskap neem.

As julle reg is om te begin, behoort elkeen om die tafel ‘n ander eienskap voor hom/haar te hê. Elkeen kry geleentheid om die stukkie oor hulle eienskap te lees en die gesprek in te lei deur die vraag te stel aan die groep:

  • Daar is ‘n KYK gedeelte wat die eienskap van die generasie (die tafelgas) verduidelik.
  • Daar is ‘n LUISTER gedeelte met ‘n kort ware verhaal wat ‘n voorbeeld gee.
  • Daar is ‘n GESELS gedeelte met ‘n vraag wat jy moet antwoord en ander kans gee om te antwoord.

Ons gaan nou vir jul tyd gee vir die gesprek – probeer om ten minste by 3 van die “tafelgaste” of leidrade stil te staan.

___________________________________________________________________________

Oorgang na video

Hoe kan ons waag met hierdie 9 tafelgaste? Hoe kan ons met verbeelding hierdie 9 leidrade inspan in ons eie konteks?  Hoe kan ons begin om op nuwe plekke en op verrassende maniere kerk te wees vir en saam met ‘n nuwe generasie?

Ons gaan nou kyk na ‘n videogreep genoem “Secret Kitchens” van hoe ‘n gemeente buite die boks begin dink het om nuwe geleenthede te ontgin…

___________________________________________________________________________

Wys VIDEOSNIT 3: Secret Kitchens (3min)

___________________________________________________________________________

Verduidelik die “speel en verbeel” kaartspel:

Op elke tafel is daar ‘n pakkie kaartjies met simbole op. Ons gaan nou met die pakkie kaartjies op die tafel speel om ons te help om met verbeelding aan splinternuwe, kreatiewe, buite die boks idees te dink. Hierdie is ‘n dinkskrum waar daar geen reg of verkeerde idees is nie. Hierdie is hoe die spel werk:

  • Die kaartjies moet met simbole na onder aangegee word.
  • Elkeen kry ‘n beurt om 3 kaartjies met simbole op te kies
  • Kyk na die 3 simbole – jy kan besluit waarvoor hulle staan
  • Met daardie 3 moet jy (m.b.v. die ander om die tafel) dink aan iets wat julle sou kon doen om kerk te wees buite die kerk konteks (hou die 9 leidrade in gedagte).
  • Byvoorbeeld: ek kry ‘n babastootwaentjie, wynglas en ‘n boom. Ek besluit ons gaan eenmaal per maand op ‘n wynplaas, onder bome, ‘n piekniek byeenkoms hou vir jong ouers (met stootwaentjies) oor temas wat hulle raak. Ons gaan by crèches hiervoor adverteer.
  • Onthou: Let go and have fun! Droom kreatief en sonder beperkings en kyk wat gebeur. Gebruik julle verbeelding!!
  • Julle mag mekaar help.
  • Vul die idee in op die leë kaartjies – wat gaan jy doen, met wie en waar.
  • Elke groep gaan hulle beste idees ingee.
  • Daar is pryse op die spel vir mees prettige, mees kreatiefste, en mees uitdagendste idee.
  • Ons gaan julle tot 09:45 gee, dan moet die tafel die beste idee kies en ingee teen 09:50.

 (Gee tyd vir hulle om te speel)

__________________________________________________________________________

Wat leer ons by #imagine oor die kerk van die toekoms?

Wat is #imagine?

In 2013 is daar saamgedroom om ‘n landswye jeug tot jeug inisiatief te loods, in ‘n eietydse idioom, wat die jongmense van Suid-Afrika sal impakteer en soos ‘n golf oor die land sal spoel na elke gemeente en gemeenskap.  Die visie is gebore om op een naweek in ‘n jaar ‘n reuse tiener saamtrek hou op verskillende plekke dwarsoor die land.  Die sinode van Wes-Kaapland het dadelik aangebied om gasvrou van die Suide byeenkoms te wees. Daar word tans op 3 ander plekke op dieselfde naweek in Bothaville in die Vrystaat, Jeffreysbaai in die Oos-Kaap en Bela-Bela in die Noorde presies dieselfde byeenkoms gehou.

  • Hierdie jaar was daar weer ongeveer 6500 mense in totaal bymekaar by 4 feeste,
  • waarvan 1668 by die Suide byeenkoms in Bredasdorp was.
  • In die Suide was daar ook meer as 400 tieners geborg,
  • 331 gemeentes het dit bygewoon uit 79 dorpe.

Hoekom span gemeentes saam om #imagine te hou? Die droom is:

  • om tieners ‘n besondere, kreatiewe ruimte te gee vir ‘n ontmoeting met Jesus en om geestelike te groei,
  • om tieners blootstelling te gee aan christen tieners uit ander rasse, kulture, kerke en dorpe
  • om by tieners ‘n droom te kweek by dat God hulle wil gebruik om Suid-Afrika positief te impakteer en
  • om ons jongmense toe te rus om in gemeentes en skole diensbaar te wees.

6e jaar – wat is anders? F3

Ons het dié afgelope jaar gefokus daarop om ruimte te maak vir groter diversiteit in taal, kultuur, styl van aanbidding en spiritualiteit. Ons het ook intensioneel die vrye tyd ingespan om brûe te bou tussen die verskillende groepe.

Kom ons kyk na die volgende videogreep en luister na wat dit ons vertel oor die kerk van die toekoms…

___________________________________________________________________________

Wys VIDEOSNIT 4: #imagine (3min)

___________________________________________________________________________

Nog #imagine tendense wat ons raaksien: F4

  • Heel getal NGK gemeentes het ander gemeentes van ander denominasies (soms ook uit ander gemeenskappe) saamgebring en verhoudings is so versterk.
  • Die navorsing wat tydens #imagine gedoen word wys dat baie jonger tieners ‘n geloofsoorgawe maak terwyl ouer tieners meestal geloofsgroei ervaar.
  • Die meeste tieners getuig egter ook dat die fees hulle help om ‘n roeping te kry vir hulle eie lewe en ‘n droom vir Suid-Afrika.
  • Vertroue tussen kultuurgroepe is ook versterk.
  • Gemeentes getuig dat a meer jongmense terugkeer toegerus om diensbaar te raak in die skool, kerk of gemeenskap.

Kort getuienisse

  • Getuienis van ekumene en opvolg K-imagine
  • Getuienis van tiener betrokkenheid en gemeentebou

Wat leer dit vir ons oor ons nadenke oor die kerk van die toekoms?

  1. Ons sal ruimtes moet gebruik soos #imagine om ons kerk voor te berei om met diversiteit gemaklik te wees en dit te omarm en te vier
  2. Ons sal kreatief moet dink om ruimtes te maak vir verskillende tipe spiritualiteite om God te aanbid en te ervaar
  3. Ons sal ruimtes moet skep vir jong mense om leiding te neem en hulle toerus om hul roeping en gawes uit te leef en diensbaar te wees in die skool / werksplek / gemeenskap en kerk.

___________________________________________________________________________

Terugvoer van kaartspel Verbeel spel

Ons het wonderlike idees ontvang om kerk te wees buite die tradisionele kerk grense.

Die prys aan die kreatiefste idee gaan aan tafel no…

  • noem idee…

Die prys vir die prettigste idee gaan aan tafel no…

  • Noem idee…

Die prys vir die mees uitdagendste idee? Gaan aan tafel no…

  • Noem idee…

__________________________________________________________________________

Uitnodiging om saam te reis, dinkjeug en ander hulpmiddels

Mag julle aanhou droom oor die kerk van die toekoms. Die boekies kan huis toe geneem word. Die hele aanbieding vandag met videoclips, powerpoint, notas, kaarte en die boekie is op www.dinkjeug.co.za beskikbaar sodat jy ‘n soortgelyke visionerings geleentheid in jou gemeente kan reël en alles ook met jou kerkraad kan deel.

Dit is die Taakspan Jeug en Familie bediening se visie om aan te hou navorsing doen, toerusting gee, gemeentes te fasiliteer en hulpmiddels te ontwerp wat ons help om ons kinders, tieners en jong volwassenes te bedien, maar tegelyk ook die groter kerk te help om na te dink oor die kerk van die toekoms.

Op die elektroniese platform www.dinkjeug.co.za asook op Dinkjeug se Facebook page, kan die nuutste navorsing, denke en idees oor alles wat hiermee verband hou gevind word.

Ons nooi jul uit om deel te word van die reis.

Kyk ook gerus in die Familie en Jeug Taakspan se verslag oor ander geleenthede, netwerke, hulpbronne en elektroniese platforms wat beskikbaar is.

Byvoorbeeld:

  • Die Familie Netwerk artikels en inligting
  • Kix kinderbedening les-materiaal
  • Kategete toerusting en artikels
  • Jeug strategie dokumente
  • Informasie oor die Taize byeenkoms 25-29 Sept 2019 vir jong volwassenes in Kaapstad.

___________________________________________________________________________

Gebedshandeling met saad

1: Kom ons raak rustig en sluit hierdie sessie met ‘n gebedshandeling af:

Daar is ‘n rooi koevertjie op elke tafel is daar ‘n koevert met sonneblom saad in.

Laat elkeen ‘n saadjie uit die koevert haal.

(gee tyd daarvoor)

Ons gaan die saadjies nou saam in die bak plaas tydens die volgende gebed. Ons sal aandui wanneer ons dit gaan doen. Kom ons sluit die oë.

Gebed:

1:         Dankie Here dat U u Gees uitstort op alle mense:

2:         Gee dat ons ook almal sal insluit en aanvaar.

1:         Dankie dat ons seuns en dogters as profete optree:

2:         Help ons om te luister en te leer by mekaar.

1:         Dankie dat ons jongmense gesigte sien:

2:         Gee vir ons verbeelding sodat ons ook kan sien.

1:         Dankie dat ons oumense drome droom:

2:         Help ons om met antieke wysheid die toekoms in te gaan.

1:         Dankie Here dat U u Gees uitstort oor u dienaars en u dienaresse

2:         Skenk aan ons ook U Gees sodat ons waagmoed kan hê.

1:         Dankie dat ons jong mense as profete optree.

2:         Help ons om hulle te volg en saam met hulle die toekoms in te spring!

1: Hierdie saad plaas ons nou in die bak…as teken van die saad van kreatiwiteit en verbeelding wat U Gees vandag aan ons skenk

2: Ons bid dat ons elk Godgegewe idee sal koester en natmaak

1: En dat U die Kerk van die Toekoms sal vestig en laat groei.

(Gee kans dat hulle dit doen.)

Amen.

___________________________________________________________________________