Hier volg moontlike redes waarom ‘n groep jong volwassenes die NG Kerk verlaat maar wel in ander denominasies tuiskom, soos saamgestel uit ‘n gesprek van die Jong volwasse Leer Gemeenskap byeenkoms gehou in November 2017. Hierdie is deel van ‘n reeks van 4 artikels.
Ons elkeen ken jongmense wat in hierdie groep val. Dit is die jongmense wat in die NG kerk groot geword het, maar wat nou deel vorm van ’n ander denominasie – telkens binne die charismatiese stroom.
Sommige van die verhale van hierdie jong volwassenes sluit periodes van kerklos wees in, waarna hulle hulself opnuut toewy aan Christus in alternatiewe denominasies. Hierdie denominasies sluit Presbiteriaanse, Evangeliese, tradisioneel sowel meer gematigde Charismatiese gemeentes in. Maar hoekom gebeur dit? Wat is die redes agter jong volwassenes se skuif na ander denominasies?
Vanuit die verhale van jong volwassenes in hierdie groep, is dit duidelik dat die redes agter hul skuif nie vereenvoudig kan word tot ’n enkele faktor nie, maar dat die redes ’n komplekse web van faktore is.
Gasvryheid, ervaring en konneksie
Een van die redes wat herhaaldelik in verhale na vore kom, is die energieke en gasvrye atmosfeer van die alternatiewe denominasies. Dit bied vir baie jong volwassenes ’n ruimte om met ander Christene te “connect” op ’n wyse wat hulle nie noodwendig voorheen kon nie.
Hierdie verhoudings aspek van kerk wees is telkens ’n prioriteit in hierdie gemeentes en daardeur skep hulle ruimtes van “belonging” deur bv. selgroepe. Dit het veral ’n sterk impak op jong volwassenes wat moontlik voorheen binne die kerk veroordeel gevoel het of nie hulself kon vereenselwig met ’n veroordelende kultuur in sommige gemeentes nie.
Verder, vind hierdie jong volwassenes telkens dat hulle ’n meer intense ervaring met God kan hê deur alternatiewe vorme van lof en aanbidding. Hierdie “worship” word soms oorgedra na die alledaagse en word nie beperk tot die sing van liedere nie.
Teologie en diens
Die versoeking kan wees om hierdie groep af te maak tot mense wat nie hul geloof ernstig opneem nie en eerder ’n “maklike” teologie verkies. Dit is wel so dat hierdie denominasies dikwels ’n meer fundamentalistiese teologie verkondig, maar die klem val nie noodwendig op maklike teologie nie, maar eerder verstaanbare en relevante teologie wat ’n duidelike terme omskryf word. Teologiese konsepte word dikwels meer eenvoudig verpak en word oorgedra binne reekse wat hulle totale lewenstyl skuif. Hierdeur ervaar jong volwassenes telkens ’n hernude sin van roeping wat hulle kan uitleef by geleenthede vir diens en aktivisme.
Die JVLG voel ernstig oor hierdie groep jong volwassenes en oor die wyse waarop hulle ons attent maak op die wyse waarop die NG kerk jong volwassenes kan vervreem. Tog voel ons dat hierdie groep nie ons enigste fokus kan wees nie aangesien hulle immers steeds deel is van die groep wat nog in die groter kerk van Christus is. Verder, wil ons ook beklemtoon dat ons nie hierdie jong volwassenes op enige manier wil reduseer nie, maar wil ons hulle ook waardeer vir die toegewydheid waarmee hulle hul plek binne God se koninkryk soek en leef.
___________________________________________________________________________