Dag 6: Soos ‘n… wingerdloot
Hier waar ek woon kry ons altyd in die somer heerlike druiwe te koop, sommer groot bokse vol op ‘n slag. Druiwe smaak heerlik en ‘n mens hoef nie ver te ry van ons af nie, dan ry ons tussen wingerde deur. ‘n Wingerd is baie interessant. Vir ‘n groot deel van die jaar sien ‘n mens net rye stompe, dit lyk amper dood maar dit bly so staan. En dan , op die regte tyd verskyn die groen wingerdlote wat groei en rank, en aan die punte van hierdie wingerdlote verskyn fyne blommetjies en knoppies, en dit raak al hoe groter en groter en verander van kleur tot ons druiwetrosse kry – van groen na geel en rooi en amper swart. Die druiwetrosse en groen wingerdlote sou glad nie kon groei en vrug dra, as dit nie vas was aan die wingerdstompe in die grond nie.
Johannes gebruik hierdie pragtige prentjie om aan ons te verduidelik dat ons nie te veel van onsself moet dink nie – ons kan niks doen en niks wees nie, as ons nie vas is aan God nie.
Kom ons luister saam hoe hy dit verduidelik in Johannes 15:1-8 uit die Bybel vir Almal
Jesus is die ware wingerdstok
1 Jesus het ook vir sy dissipels gesê: “Ek is die ware wingerdstok. My Vader is die druiweboer. 2 Daar is party lote wat uit My groei maar wat niks vrugte dra nie. My Vader knip daardie lote af. Maar die lote wat vrugte dra, knip Hy net skoon sodat hulle nog meer vrugte kan dra. 3 Julle is klaar skoon. Wat Ek vir julle gesê het, het julle skoongemaak. 4 Julle moet by My bly soos Ek by julle bly. Julle moet onthou ‘n loot alleen kan nie vrugte dra nie, dit moet aan die wingerdstok vas bly. Julle kan ook nie vrugte dra as julle nie by My bly nie. 5 Ek is die wingerdstok. Julle is die lote. As julle by My bly en as Ek by julle bly, dan sal julle baie vrugte dra. As Ek nie by julle is nie, dan kan julle niks doen nie. 6 As mense nie by My bly nie, dan sal met hulle gebeur wat met lote gebeur wat nie vrugte dra nie. Die mense gooi daardie lote weg, en dit word droog. Later vat hulle dit en gooi dit in die vuur, en dit verbrand. 7 Julle moet by My bly, en die dinge wat Ek vir julle sê, moet in julle harte bly. Dan kan julle vir My vra wat julle wil hê en Ek sal dit vir julle gee. 8 As julle baie vrugte dra, en as julle my dissipels is, dan sal die mense weet my Vader is God.
Gesels nou saam oor die volgende vrae.
- Hoekom dink julle word lote wat nie vrugte dra nie gesnoei?
- Wat moet ons doen wat soos vrugte dra is?
- Wat dink julle bedoel Jesus wanneer Hy sê ons is skoon?
- Wat kan ons sonder Jesus doen?
Kom ons bid saam.
Dankie Here, dat ons soos wingerdlote vas is aan U, die wingerdstok.
Amen
Doen nou die volgende saam. Hier is ‘n voorstel vir families:
Neem ‘n groot stuk papier en teken ‘n wingerdstok en lote met druiwe. Skryf in die druiwekorrels voorbeelde van hoe julle kan vrugdra. Skryf in of langs die wingerdstok woord wat God beskryf.
Sing die lied Hy’s die Ene wat ek liefhet saam.
Mag die Here Jesus wat die ware wingerdstok is, by jou wees en bly.