Skip to main content
Huisgeloof Argief

Johannes 1: 40-42 (2020 vertaling) (A)

By June 14, 2024No Comments

Dag 3: Geroep 

Geroep om te deel 

Ek wonder wie van julle deel die maklikste en wie deel die moeilikste? En as jy die grootste stuk koek raaksien op die bord, neem jy dit vinnig vir jouself of gun jy dit vir iemand anders? En deel jy maklik jou speelgoed met jou broers of susters of maats?  

Wat dink julle hiervan?

Dis glad nie so maklik om te deel nie. En nog moeiliker om iets weg te gee. As ons kinders met al die niggies en nefies vakansie hou, is dit soms moeilik om nie te baklei oor die grootste stuk waatlemoen nie. 

Een van die bekendste stories in die Bybel waar kos gedeel word, is die wonderwerk waar Jesus 2 broodjies en 5 vissies vermeerder om vir meer as 5000 mense kos te gee langs die see van Galilea. Hierdie verhaal word in al 4 die evangelies vertel, maar die Johannes evangelie voeg ‘n stukkie by wat vertel dat dit ‘n jong seun se middagete was wat hy bereid was om te deel. En dat dit die dissipel Andreas was wat hierdie kind se bereidheid om te deel raakgesien het, en hom na Jesus toe gebring het.  

In die verhaal wat ons hierdie week lees, deel Andreas weer iets. Nie iets fisies nie, maar hy deel die goeie nuus met sy broer dat hy Jesus ontmoet het. 

Kom ons lees saam Johannes 1: 40-42 (2020 vertaling) 

40Andreas, die broer van Simon Petrus, was een van die twee wat gehoor het wat Johannes sê, en Jesus gevolg het. 41Hy het sy broer Simon eerste teëgekom en vir hom gesê: “Ons het die Messias gevind” – dit is, as dit vertaal word, Christus. 42Hy het hom na Jesus geneem. Jesus het stip na hom gekyk en gesê: “Jy is Simon, die seun van Johannes. Jy sal ‘Sefas’ genoem word,” wat vertaal word Petrus.

Gesels nou saam oor die volgende vrae. 

  1. Vertel vir mekaar wat julle dink Simon Petrus daardie aand vir sy familie vertel het. 
  2. Wat leer ons oor mededeelsaamheid in die verhaal? 
  3. As Jesus se dissipels word ons geroep om ons gawes, tyd en besittings te deel. Hoe kan julle meer mededeelsaam wees met mekaar?

Kom ons bid saam. 

Sit julle palms teen mekaar en bid dat julle mekaar sal dien met julle gawes. Sit nou julle voete bymekaar en bid dat julle julle besittings sal deel. Haak nou in bymekaar en bid dat julle mededeelsaam in die huis sal wees. Amen 

Doen nou die volgende saam. Hier is 3 voorstelle.  

  • Die eerste voorstel is vir families:  Maak ‘n lys van dinge wat julle het wat julle kan deel (byvoorbeeld boeke om uit te leen, speelgoed, swembad, tent).  Plak die lys iewers op en besluit op een ding wat julle hierdie week met mekaar of ander kan deel.
  • Die tweede voorstel is vir tieners:  Ruil iets uit vir ‘n dag of ‘n week met een van jou familielede. Dalk ‘n speelding, ‘n boek, ‘n geliefkoosde trui. Dit moet vir albei lekker wees om iets met mekaar te deel.
  • Die derde voorstel is vir kinders:  Deel met soveel moontlik mense met wie jou pad kruis ‘n vriendelike glimlag en groet hulle.  

Hulpmiddels: 

  • Die Skrifgedeelte in die 2020 vertaling.
  • Gesprekskaarte (Glo en gesels speletjie): Volg die skakel vir voorbeelde. 

Mag die Here Jesus wat jou roep om Hom te volg, by jou wees en bly. 

Leave a Reply