Skip to main content
Huisgeloof Argief

Jesaja 9:5-6

By June 14, 2024No Comments

Dag 2: Jesus is ons Raadsman (Jesaja 9:5-6) 

 Ek wonder of jy bekommerd is oor die nuwe jaar of uitsien daarna? Dalk is daar iets nuut wat jy moet aanpak, soos ‘n nuwe skool, ‘n nuwe werk of selfs ‘n nuwe blyplek. Dalk is daar dinge wat gaan verander soos jou juffrou of meneer, of selfs jou vriende. Daar is dalk nog dinge waaroor jy onseker is of besluite wat jy gaan moet maak.  

 Gewoonlik voor ‘n nuwe jaar voel ek ‘n mengsel van gedagtes en emosies. Ek onthou die jaar wat ek hoërskool toe is as só ‘n jaar – my ouers het my gestuur na Jan van Riebeeck Hoërskool – maar ek was die enigste een van my laerskool wat daarheen sou gaan, omdat ek van ‘n klein dorpie gekom het. So ek was aan die een kant opgewonde en bly om na ‘n nuwe skool te gaan om nuwe ervarings te hê en nuwe vriende te maak, maar aan die ander kant het ek ook maar ‘n bietjie onseker, bekommerd en vreemd gevoel. Aan die een kant kon ek nie wag vir alles wat die nuwe jaar inhou nie, maar aan die ander kant wou ek sommer vir ewig nog lekker vakansie hou. 

 Hoe voel jy oor die jaar wat voorlê? 

 Die grootste geskenk wat God vir ons gee vir ons jaar is om in ‘n verhouding te kan wees met Jesus Christus. Hy gee vir ons wysheid of raad, vrede, krag en sommer baie ander dinge wat ons nodig het. Wanneer ons bekommerd voel oor die jaar wat voorlê, of alleen voel, of onseker is… kan ons onthou dat Jesus ons Raadsman is, die een wat saam met ons stap en ons leer hoe om te leef. 

 Kom ons lees saam ‘n teks uit Jesaja waar die koms van Jesus voorspel word in Jesaja 9:5-6 

 5Vir ons is ‘n Seun gebore, 

aan ons is ‘n Seun gegee; 

Hy sal heers, en Hy sal genoem word: 

Wonderbare Raadsman, 

Magtige God, 

Ewige Vader, 

Vredevors. 

6Sy heerskappy sal uitbrei, en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring. Hy sal op die troon van Dawid sit en oor sy koninkryk regeer. Hy sal dié koninkryk vestig en in stand hou deur reg en geregtigheid, van nou af en vir altyd. Daarvoor sal die onverdeelde trou van die Here die Almagtige sorg. 

 Gesels nou saam oor die volgende vrae. Julle kan na elke vraag die “pause” knoppie druk om tyd te gee vir gesprek of nadenke. 

  1. Watter name vir Jesus gee hierdie teks?  
  2. Watter van die name beteken vir jou baie? 
  3. Jesus word genoem ons Wonderbare Raadsman – wat beteken dit? 
  4. Watter dinge is jy oor bekommerd of onseker of watter besluite moet jy maak waarvoor jy die Here se wysheid benodig? 

Kom ons bid saam.

Bid vir mekaar se uitdagings, veranderings en nuwe dinge wat hierdie jaar voorlê. Sê ook vir Jesus dankie dat Hy ons Wonderbare Raadsman is wat ons met wysheid help en lei. 

 Doen nou die volgende saam.  

Skryf op ‘n spieël in die huis: “Wonderbare Raadsman” en gesels oor die verskillende maniere waarop Jesus vir ons raad gee. Bid vir wysheid en raad telkens as jy in die spieël kyk. 

 Kom luister die res van die week saam oor hoe die Here ons lei as ons Raadsman en wat dit te doen het met die wyse manne se besoek uit die ooste! 

 Die Here seën jou, is by jou en lei jou. Hy is die Raadsman wat vir jou wysheid gee. Amen 

Leave a Reply