Jana Dickason (Durbanville Moeder Gemeente) en Wynand Breytenbach (Durbanville Bergsig Gemeente) het hul plaaslike Hoërskool genader en aangebied om die detensie tyd op ‘n Vrydagmiddag weekliks te fasiliteer. Hulle wil graag in hierdie tyd die tieners help om na te dink oor hul keuses en identiteit en positief te groei. Hulle doen dit deur veral te luister na hulle stories. Hulle leuse is – Ons is hier om te luister, te fluister en te groei.
Hoe benader ‘n mens só ‘n bediening?
Begin deur stories te vertel, ook jou eie. Wees vulnerable. Maak duidelik jy is nie van die skool nie, maar van buite. Beklemtoon dat dit `n veilige ruimte is en dat jongmense nie veroordeel sal word nie. Soms neem dit lank vir jongmense om te begin oopmaak. Hulle sukkel aan die begin om te deel en raak soms aanvallend.
Watter temas behandel hulle?
Hulle behandel 4 vrae, 1 vraag per week
- Wie is jy? (“body mapping”) Help hulle om hulle stories te vertel deur die prente wat hulle teken. Trek elkeen se hele liggaam af op groot velle papier. Elkeen kry die opdrag om binne in hulle prent te teken/skryf wie hy/sy tans is en buite om te teken/skryf waarheen hy/sy oppad is of /wie hy/sy wil wees OF wat hulle drome is. Bespreek dan die vraag – Wat verhoed jou vandag (dinge aan die binnekant) om te kom waar jy wil wees (aan die buitekant).
- Waarvoor staan jy? (Beskryf jou beste vriend – dan sien jy wat jy hoog ag, moenie laat ander se labels jou define nie, hoekom is dit nie so in die wêreld nie? Onreg) hier word gesprekskaarte gebruik.
- Wie het jou seer gemaak? (vul in op verskillende kaartjies – wêreld, geloof, ek, familie, skool; en maak ‘n tydlyn – hoogtepunte, laagtepunte ens, antwoord self ook die vrae)
- Waarheen is jy op pad? Weer body mapping, kyk nou of dit anders lyk as tydens die eerste week.
Soms kom daar dinge uit ‘n gesprek wat volgens wet gerapporteer moet word en dan neem die skool se maatskaplike werker dit gewoonlik verder.
Artikel samegestel deur Nicola Alberts na ‘n energiepunt gesprek oor skolebediening waar Jana Dickason bogenoemde storie vertel het van hul plaaslike “detensie bediening”.