Skip to main content

Die meeste mense beskou hulself nie as mentors nie. Miskien het die woord “mentor” vir ons te swaar geraak. Die ironie is egter dat die meeste van ons wel al ‘n mentor vir iemand anders was en ook mentors het!
Dikwels is daar egter vrese of wanindrukke wat jou verhinder om aan jouself as ‘n mentor te dink, byvoorbeeld:

Wat het ek regtig om te bied?
Miskien dink jy aan ‘n mentor as iemand wat alles al uitgesorteer het en alles reeds weet. ‘n Mentor is egter iemand wat bloot hul ervarings deel, self steeds leer, belangstel en bereid is om saam te luister en te soek.

Ek het nog nooit ‘n mentor gehad nie.
Dalk meen jy dat as jy nog nooit ‘n voorbeeld in jou lewe gesien het nie, jy self nie een kan wees nie. Die realiteit is dat alhoewel formele mentorverhoudings skaars is, ons almal mense in ons lewe gehad het wat op ‘n informele manier ons lewens beïnvloed het. Ek kan dink aan ‘n onderwyser, ‘n oom en tannie, my ouers, vriende en ‘n diensjaarleier wat ‘n impak om my lewe gehad het. Mentorskap is ook dikwels wedersyds; een persoon is nie noodwendig die mentor en die ander een die een wat gementor word nie.

Wat as ek nie ‘n goeie mentor is nie?
Die vrees om nie aan verwagtinge te voldoen nie, weerhou ons dikwels daarvan om met ander te deel en onsself bloot te stel. Mense soek egter iemand met wie hulle kan assosieer, iemand wat eg is en iemand wat self met uitdagings worstel en antwoorde soek.

Wat is die kenmerke van ‘n mentor?

  • Vriendelik en gee om – stel opreg belang
  • Opreg en deursigtig – deel ook hul eie swakhede
  • Toegewy aan God en gewillig om geestelik te groei
  • Verbind om saam met spesifieke mense te reis en lewenservaring te deel
  • Vra goeie vrae en is saam soekend na wysheid

Hoe kan ek prakties ‘n mentor raak?

  • Dink aan die mense wat reeds in jou lewe is. Vir wie kan jy ‘n mentor wees? Hoe kan jy jul verhouding so inrig?
  • Dink aan mense na wie jy opkyk of vir wie jy vertrou. Wie kan in jou lewe inbou? Maak dit ‘n prioriteit om met hulle tyd te spandeer.
  • As jy ‘n kategeet is, hoe kan julle as mede-kategete dieper in mekaar se lewens inbou? Maak tyd om een persoon te besoek en beter te leer ken.
  • Hoe kan jy ‘n mentor wees vir jou kategese groepie? Dalk sal dit beteken dat jy ander vrae vra of alleen-tyd met jou groep spandeer.

‘n Stad wat op ‘n berg lê, kan nie weggesteek word nie… Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik. Matt 5:16

Geskryf deur ds Anriëtte de Ridder (Predikant in Sinodale diens vir Jeug- en Familiebediening van die Wes-Kaapland Sinode).