Skip to main content

Meer oor Goeie Vrydag

Die einde van Lydenstyd breek aan met Goeie Vrydag.  Goeie Vrydag is die dag wat Christene wêreldwyd die Kruisiging van Jesus onthou en dit vorm deel van Paasnaweek. Die datum wissel van jaar tot jaar aangesien dit verband hou met die maan se siklus.

Die laaste week voor Goeie Vrydag (Sondag tot Donderdag) word genoem die Groot Lydensweek waar die laaste gebeure in Jesus se lewe voor die kruisiging herdenk word, soos die Intog in Jerusalem (Palmsondag), Jesus se salwing en die laaste Avondmaal (Donderdagaand).  Op Goeie Vrydag is die simboliese kleur swart of somber, donker kleure.

Meer oor Paassondag

Paasfees het in die Joodse tradisie bekend gestaan as “Pascha.” Tydens die Joodse Pasga het hulle, hulle bevryding uit Egipte en slawerny gevier. Christus het met Sy opstanding tydens Pasga die sonde en dood oorwin en ons finaal bevry.  Paassondag staan bekend as Opstandingsondag, omdat daar teruggedink word aan Jesus wat uit die dood opgestaan het, soos die Nuwe Testament dit beskryf. Hierdie opstanding het op die derde dag nadat Jesus gekruisig is, gebeur.

Christene versier gewoonlik hulle liturgiese ruimte op die Paassondag met blomme en helder kleure wat nuwe lewe en vreugde simboliseer. Hierdie helder kleure staan in kontras met die swart en somber kleure van Goeie Vrydag. In sommige kerktradisies word nuwe bekeerlinge op Opstandingsondag gedoop. Daar is ook kerke wat die kleur wit gebruik (byvoorbeeld wit lelies) as ‘n teken van oorwinning en reinheid.

Idees vir families

Maak ‘n kruis
Maak as gesin ‘n kruis met iets uit julle tuin of omgewing byvoorbeeld takke, wingerdlote, planke, karton of skulpe. Versier dit met lint, knope, kraletjies ens.  en plaas dit iewers sentraal in die huis. Lees die verhaal van Jesus se kruisiging in Matteus 27. Met kleiner kinders kan julle ‘n Kinderbybel gebruik.

Paaseier verf
Verf wit paaseiers of leë eierdoppe in kleure soos:

  • Rooi – Jesus se bloed (liefde)
  • Pers – Jesus is Koning
  • Blou – Heilige Gees is by jou
  • Geel – Ons het die ewige lewe
  • Groen – Groei en ‘n nuwe begin

Sondag vroeg opstaan

  • Stel as gesin jou wekker vir net voor sonsopkoms. Maak ‘n koppie koffie of ‘n warm sjokolade en kyk saam na die son wat opkom. Julle kan, indien moontlik, op die huis se dak sit, of selfs na ‘n “koppie” in die omgewing ry.
    Terwyl julle wag vir die sonsopkoms, kan julle terugdink aan die oggend toe Maria Magdalena, voor sonsopkoms, na Jesus se graf gegaan het en dit leeg gekry het.
  • Net soos wat die son opkom en lig vir die aarde bring, so bring Jesus se opstanding ook nuwe Lig en hoop vir die aarde.

Klip voor graf

  • Elkeen in die gesin soek ‘n mooi klip in die tuin of in julle omgewing. Die klip laat ons dink aan die groot klip wat voor Jesus se graf weggerol is.
  • Gebruik verf of penne om die klip te versier. Skryf op die klip iets soos “Jesus lewe” en hou dit op ‘n plek waar dit jou kan herinner aan Jesus se opstanding.

Paaseier soektog

  • Steek ‘n klomp verskillende paaseiers weg en laat die kinders (en grootmense) dit soek.
  • Die simboliek van ‘n (paas)eier is nuwe lewe en laat ons dink aan Jesus wat vir ons nuwe lewe gee deur Sy opstanding. Die hol/leë eiers herinner ons ook aan Jesus se leë graf. Gesels met mekaar oor hierdie betekenisse.

Bak paasbolletjies “Hotcross buns”

  • Soek ‘n lekker resep vir paasbolletjies op die internet. Lees ook sommer op die internet waar die gebruik om paasbolletjies te maak vandaan kom.
  • Bak saam die paasbolletjies en terwyl julle dit as gesin saameet, dink terug aan Jesus se dood en opstanding en wat dit vir jou beteken.

Wit lelies

  • Wit lelies is die blom wat simbolies is van die opstanding. Koop ‘n bos wit lelies en gaan gee dit as ‘n gesin vir iemand wat siek is.
  • Bid vir die persoon.

Plant ‘n saadjie
Gebruik ‘n leë eierhouer en plant dit vol saadjies. Die saailing wat opkom kan in die eierhouer in die grond oorgeplant word. Die plantjie wat opkom herinner ons aan die nuwe lewe wat ons elkeen kry deur Jesus se opstanding.

Vir meer idees oor hoe families die kerkjaar kan vier, bestel gerus die boek “Ons Huis Onthou: Families Vier Saam” (de Ridder en van der Westhuizen) by Bybel-Media:

Huisgeloof reeks 3 Ons huis onthou

Leave a Reply