Baie jare terug was die Bybel slegs in Grieks, Hebreeus en Latyn beskikbaar. Baie min mense kon daardie tale praat en kon dus nie die Bybel lees nie. Bybels was ook baie duur, so gewone mense kon dit nie bekostig nie. As jy wou weet wat in die Bybel staan, moes jy kerk toe gaan sodat die priester vir jou kon sê wat daarin staan. Dit het dan gebeur dat party mense gedink het dat hulle nie goed genoeg vir God was nie, of party mense het gedink dat net sekere mense goed genoeg vir God was.
Dan het mense geglo dat hulle hard moet werk om hulle plek in die hemel en ook vergifnis te verdien. As een van jou familielede doodgegaan het, het jy wat nog gelewe het, die kerk duur betaal sodat jou familielid se sondes vergewe kon word en hulle uit die vagevuur kan gaan (hulle het gedink dis soort van ‘n wagkamer voor jy hemel toe kan gaan) en in die hemele kon kom.
Daar was toe ‘n groep Christene, veral een man, Martin Luther, wat gesê het: “Nee, dis nie wat die Bybel oor vergifnis sê nie.” Hulle het gesê dat almal sondaars is, party mense is nie meer sondig as ander nie, en dat mens slegs vergewe kan word deur Jesus. M.a.w. slegs deur Jesus is dit moontlik dat ons kan glo en vergewe kan word. Ons kan niks uit ons eie doen om dit te verdien nie. Martin Luther en sy vriende het toe hierdie nuus gaan verkondig en hy het ook die Bybel in Duits begin vertaal, sodat die mense om hom dit self kon lees.
Die vyf solas van ons kerktradisie help ons om rigting te hou en kom uit die dinge wat Martin Luther en sy vriende in die Bybel ontdek het.
Hier is ‘n reeks podcasts oor die vyf solas van die hervorming vir families om tydens huisgeloof te gebruik:
- Hervormingsfees
- Sola Gratia – Genade alleen
- Sola Fide – Geloof alleen
- Solus Christus – Christus alleen
- Sola Scriptura – Die Skrif alleen
- Soli Deo Gloria – Aan God alleen die eer