Hier is ‘n paar idees en simbole waarmee jul gesin tuis oor die Heilige Gees kan gesels.
WIND
Staan in die wind of voor ‘n waaier. haal ook diep asem terwyl jou hand ‘n entjie voor jou (oop) mond hou. gesels oor hoe ‘n mens nie die Heilige Gees kan sien nie en nie altyd bewus is van die Gees nie. tog is Hy soos die wind of suurstof altyd om ons en in ons aan die werk. Soms kan jy hom voel of sy werk sien.
STERRE
Staan buite in die nag en kyk na sterre. Gesels oor die sterre – oor hoe wonderlik hulle is. Praat dan oor hoe helder elkeen brand en lig maak. Gesels oor hoe die Heilige Gees ons help om lig te maak en te skyn deur ons getuienis.
KERSE
Skakel al die ligte af en steek ‘n kers aan en kyk na hoe dit brand. Gesels oor hoe die Heilige Gees ons troos en lei in moeilike (donker) tye.
SPIEËL
Staan voor ‘n spieël. Hoe help die Heilige Gees ons om meer soos Jesus te lyk en op te tree? Hoe help hy ons om goeie besluite te neem?
KLEI
Speel met die klei. Jul kan iets van julself uitbeeld. Gesels oor hoe die Heilige Gees ons vorm deur ons aan Jesus (en Sy woorde) te herinner. Hoe verander / vorm die Gees ‘n mens?
TUIN
Plant saam saadjies of werk in die tuin / groentetuin. Gesels oor hoe die Heilige Gees ons help om te groei. Hoe is ons soos saad? Hoe gee Hy vir ons kos en water? Hoe snoei hy ons? Watter vrugte dra ons as die Gees deur ons werk?
ALARM
Stel almal ‘n wekker of horlosie of selfoon vir die tyd wanneer julle wil gesels. Wanneer die alarms / wekkers afgaan, gesels oor hoe die Heilige Gees ons herinner. Hy help ons onthou. Hy herinner ons aan Jesus se beloftes.
WATER
Gaan stap langs water (‘n swembad of waterpoel) of drink ‘n glas water. Gesels oor hoe belangrik water is vir die mens. Wat beteken dit dat die Heilige Gees soos ‘n fontein in ons binneste is? Wat beteken dit dat die Heilige Gees ons dors wil les en ons wil vul met lewende water?
Vir meer inligting, Bybelstudies of idees oor die Heilige Gees, besoek www.onsglo.co.za of laai die onsglo app af in die Google Playstore of in die iStore.