Skip to main content

Hierdie reeks idees sluit aan by die “Ons huis oefen” boekie.

Laai die “Ons glo”-app af
Laai gratis die “Ons glo”-app af of besoek die webwerf www.onsglo.co.za. Hierdie app is ontwikkel sodat gesinne of omgeegroepe dit kan gebruik om 25 geloofstemas saam te ontdek.

Soet en suur
Vul ‘n houer met soet en suur lekkers. Almal steek hulle hande in die houer en haal ‘n lekker uit. As jy ‘n soet lekker gevat het, vertel van iets moois wat op hierdie dag met jou gebeur het. As jy ‘n suur lekker uitgehaal het, deel iets oor jou dag wat nie vir jou lekker was nie.

Fliektyd
Kyk saam ‘n fliek en gesels na die tyd oor wat julle daaruit geleer het. Besoek www.commonsensemedia.org. Onder “Reviews – movies” kan julle ander ouers se resensies oor gepaste flieks lees en vrae kry waaroor julle as familie saam kan gesels.

Herken die seisoene
Kyk hoeveel tekens van die spesifieke seisoen waarin julle nou is (somer, herfs, winter of lente) julle kan raaksien wanneer julle saam gaan stap of fietsry of met die motor ry. In die somer sal julle byvoorbeeld ‘n sonhoed, ‘n sproeier, ‘n roomyskarretjie of ‘n groen boom sien. Gesels oor God wat vir ons die seisoene gee.

Musiekaand
Laat elke gesinslid ‘n lied kies waarvan hy of sy baie hou (gospel of sekulêr). Luister saam daarna en Google die lirieke. Gesels oor die betekenis van die lirieke. Gesels oor hoe God by mense se ervarings van die lewe betrokke is.

Opgestel deur ds Francois Maritz.

Vir die volledige boekie, kyk hier.