Hierdie reeks idees sluit aan by die “Ons huis oefen” boekie.
Die liggaam
Lees 1 Korintiërs 12 om te ontdek hoe verskillende gawes en persoonlikhede saamwerk om een liggaam te vorm.
Probeer dink waar julle as gesin betrokke kan wees en met julle gawes kan dien.
Bederf jou kategeet
Neem vir jou kategeet ‘n sjokolade of ‘n kaartjie om vir hom of haar dankie te sê.
“Kerk gesprekke”
Gebruik elke Sondagmiddag se middagete as ‘n geleentheid om mekaar uit te vra oor die oggend se erediens. Kyk of julle ‘n speletjie daarvan kan maak om die boodskap van die oggend te onthou. Bid spesiaal vir die gemeente.
Gemeente almanak
Plak die gemeente se almanak of belangrike datums op sodat julle dit by julle program kan inpas.
Nuwe gesigte
Probeer elke week ‘n nuwe persoon in die gemeente ontmoet, of nooi iemand wat nie deel van die gemeente is nie saam na die erediens toe.
Dankie, Dominee
Neem vir julle predikant ‘n spesiale pakkie of bel hom of haar na die erediens om te sê wat die diens vir julle beteken het.
Welkomkaartjies of -kruise
Maak spesiale kaartjies of kruise om vir besoekers aan julle gemeente uit te deel en hulle welkom te laat voel.
Opgestel deur ds Francois Maritz.
Vir die volledige boekie, kyk hier.