Skip to main content

~Anriëtte de Ridder

Ontdek jou gawes
Dink saam oor wat elkeen in julle gesin se gawes is. Dink dan aan situasies in ’n doodgewone dag waarin mense hulp nodig het. Hoe kan julle julle gawes gebruik om in daardie situasies diensbaar te wees en te help?

Ruil take om
Ruil take of verantwoordelikhede in die huis vir ’n dag of week om. Wat het jy ontdek en ervaar toe jy iemand anders in die gesin se werk moes doen?

Onverwagte diensbaarheid
Doen in die gesin iets onverwags vir mekaar soos om iemand anders se bed op te maak, vir iemand koffie in die bed te neem, iemand se rug te masseer of iemand se kosblik te pak.

Diensbare vriendskap
Doen as gesin iets diensbaar vir iemand wat siek is, wat so pas ’n nuwe baba ryker geword het of vir ’n eksamen moet leer.

Diensbare Bybelkarakters
Kan julle dink aan karakters in die Bybel wat diensbaar was? Maak ‘n lys. Soek op die internet na nog name en leer ken só ‘n paar nuwe karakters soos Naäman se diensmeisie, Lidia (teenoor Paulus) en die weduwee wat Elia help.

Koekies vir die bure
Bak koekies of brood vir die bure en skryf ’n mooi kaartjie daarby.

Diensbaar by die kerk
Help as gesin by julle gemeente. Julle kan na die diens die tee skink, mense by die diens verwelkom, broodjies vir ’n uitreik-aksie maak of in die kerk se tuin werk.

Kruietuin vir gaste
Plant kruie in die tuin sodat julle altyd iets het om weg te gee wanneer iemand kom kuier.

Een dag dienslewering
Bied aan as familie om by ‘n diensorganisasie diens te doen soos ‘n welsynsorganisasie, klerebank of dierebeskermingsvereniging.

Kook sop
Kook sop en vries dit om te skenk aan ‘n sopkombuis of nagskuiling.

Insameling veldtog
Vind uit wat ‘n plaaslike diensorganisasie soos ‘n Kinderhuis, vroeë kind ontwikkelingsentrum of maatskaplike dienstak benodig en reël ‘n insameling daarvoor soos byvoorbeeld komberse / speelgoed / sporttoerusting of klere.

Ouetehuis kuier
Gaan besoek bejaardes in ‘n ouetehuis wat min besoekers kry.

Sommige van hierdie idees is geneem uit die boek: “Ons huis oefen” deur Anriëtte de Ridder en Maartje van der Westhuizen, verkrygbaar by Bybel-Media.

Huisgeloof-reeks 1: Ons huis oefen