Skip to main content

God gee ons krag wanneer ons trauma beleef

Ek onthou hoe ek as kind na die littekens op my ma se arms en bene gekyk het en my ma dan vir my telkens die storie moes vertel van hoe sy as kind deur ‘n fratsgolf oor die rotse gesleep is, waar hulle as gesin vakansie gehou het in Sodwana aan die Noordkus van Natal. Sy het altyd bygevoeg dat ‘n mens respek moet hê vir die see, want die fratsgolf het hulle sonder waarskuwing totaal onverhoeds betrap.

Somtyds gebeur daar iets wat ons onverwags tref in die lewe, net soos ‘n fratsgolf. Dalk is dit ‘n ongeluk, natuurramp, verlies of selfs die dood van ‘n geliefde. Net soos met ‘n fratsgolf, is daar dikwels geen tyd vir voorbereiding nie, en dit vang jou heeltemal onkant. Dit kan ook jou wêreld onderstebo kom keer, jou met geweld meesleur en littekens nalaat.

Die volk Israel het ook ‘n tyd beleef toe hulle wêreld omgekeer is. Alles wat hulle geken het, het verander en hulle in ‘n reuse geloofskrisis gedompel. Hulle word weggevoer na ‘n vreemde land en hulle word gevangenes van ‘n vreemde volk. Daar vra hulle vrae soosWaar is God?” en “Hoekom gebeur hierdie dinge met ons?” Hierdie teks herinner hulle aan God se getrouheid en sorg te midde van alles wat gebeur.

Luister:

Jesaja 40: 28-31

28 Weet jy dan nie,
het jy nog nie gehoor nie?
Die Here is die ewige God,
Skepper van die hele aarde.
Hy word nie moeg nie,
Hy raak nie afgemat nie
en sy insig is ondeurgrondelik.
29 Hy gee die vermoeides krag,
Hy versterk dié wat nie meer kan nie.
30 Selfs jongmanne word moeg en raak afgemat,
selfs manne in hulle fleur struikel en val,
31 maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag.
Hulle vlieg met arendsvlerke,
hulle hardloop en word nie moeg nie,
hulle loop en raak nie afgemat nie.

Gesels:

  • Hoe raak die gebeure van die afgelope tyd jou? Watter emosies beleef jy?
  • Watter vrae of onsekerhede het jy?
  • Watter belofte/s sien jy raak in die teks?
  • Vertel van ‘n keer toe jy God se sorg of krag beleef het.
  • Die teks gebruik ‘n arend as simbool van iemand wat deur God ondersteun word. Kan jy aan nog beelde in die natuur dink wat jou herinner aan God se troue liefde of sorg?

Bid:

Here, in ‘n tyd soos hierdie het ons baie emosies en baie onsekerhede. Ons weet nie hoekom dié dinge gebeur het nie en dit los ons met baie vrae en pyn. Ons voel hartseer, gebroke, moedeloos, kwaad en verlore. Dankie dat ons eerlik vir U kan sê hoe ons voel en dat ons weet dat U, te midde van ons donker omstandighede, by ons is en ons nooit sal verlaat nie. U troos ons en beskerm ons. U gee ons krag en versterk ons geloof. U bly getrou en U gee vir ons arendsvlerke om te vlieg wanneer ons te moeg is om te loop.  Amen

Doen:

Neem ‘n bakkie water en doen ‘n doop herinnering as volg: neem water uit die bakkie en neem beurte om jou vingers daarin te doop en ‘n kruis op mekaar se hande (of voorkoppe) met die water te “teken”. Gebruik woorde soos: “Jy is gedoop. God het jou gekies, jy is Syne. Hy is altyd by jou!” om mekaar te herinner aan God se belofte aan jou by jou doop.

 

Geskryf deur ds Anriëtte de Ridder (Predikant in Sinodale diens vir Jeug en Familiebediening van die Wes-Kaapland Sinode)

Leave a Reply