Die grense van “familie” bediening lê so wyd dat ‘n predikant of jeugwerker maklik verlam kan voel. Wanneer lidmate egter bemagtig word om leiding te neem bring dit nuwe moontlikhede en hoop. Die Here gee aan elke gemeente die nodige gawes om hul roeping uit te leef. Die kerk se taak is om lidmate te help om hul gawes en roeping te ontvang terwyl hul dien en dit verder uit te bou.
Voorbeelde waaroor ‘n mens kan dink is hoe om gesinne met kinders in soortgelyke lewensfases aan mekaar te verbind. Of ondersteuningsgroepe te vorm met families met soortgelyke uitdagings. Ouer persone (sonder kinders in die huis) en enkellopendes kan ook verbind word gesinne sodat intergenerasionele geloofsvorming kan plaasvind. Belangegroepe (bv. fietsry e.a.) kan gevorm word en deur lidmate gelei word. So ook omgeegroepe en groepe wat spesifieke behoeftes aanspreek bv enkelouers, samegestelde gesinne, gesinne met kinders met spesiale uitdagings, ens. Nog ‘n voorbeeld is waar doopouers wat nie oumas en oupas naby het nie, verbind word aan ‘n ouer egpaar wat daardie gesin deurlopend ondersteun.
Wanneer lidmate bemagtig word (spontaan, of deur kursusse en toerusting) kan daar soveel meer omgee en geestelike groei in families plaasvind. “Familiebediening” raak dus ‘n wyer bediening met gewone lidmate wat leiding neem en dit organiseer. ‘n Predikant of jeugwerker se uitdaging is dus om deurgaans lidmate te identifiseer en toe te rus of te bemagtig hiervoor.
Hierdie artikel is geskryf deur Jaco van Dyk en Schalk Kotzé na aanleiding van die Familie Netwerk gesprek gehou in April 2018 te Stellenbosch. Die Familie Netwerk is ‘n gereelde gesprek wat deur die Taakspan vir Jeug en Familiebediening gehou word in die Wes Kaap Sinode van die NG Kerk.