Gesels-en-doen wenke om kinders op die nagmaal voor te berei
Dit is deel van ons as ouers se verantwoordelikheid om voor en na elke nagmaalgeleentheid met ons kinders oor die betekenis van die nagmaal te praat.
Nagmaal is ‘n baie spesiale soort ete. Ons eet brood en drink wyn/sap om ons te help om te onthou dat Jesus aan die kruis gesterf het vir ons. Hy het betaal vir ons sonde omdat Hy ons liefhet en ons vergewe. Sy kruis (en die nagmaal) herinner ons dat Jesus ons liefhet en dat ons mekaar moet liefhê.
Hier is ‘n paar voorstelle om daarmee te help:
Gesels saam:
- Wat is vir jou die lekkerste ete/s en hoekom? Bv. verjaardae, Kersfees, by ouma, braai…
- Hoe het nagmaal begin? Matt 26:26-30
- Wat beteken die wyn en brood by nagmaal? 1 Kor 11:23-26
- Hoekom vier ons nagmaal?
- Hoekom vier ons nagmaal saam met ander gelowiges?
- Hoe is al 5 jou sintuie betrokke by die nagmaal?
- Wat beteken die nagmaal? (Gesels oor een of meer van die volgende betekenisse: dit is ‘n herinneringsteken van die kruisiging; dit is ‘n vreugdefees omdat ons die opstanding ook vier; dit is ‘n gemeenskaplike ete wat ons aan mekaar verbind in die Liggaam; dit is ‘n geleentheid om ons sonde te bely en mekaar te vergewe; dit is ‘n geleentheid om te onthou dat ons elke dag afhanklik moet wees van Jesus; dit is ‘n verbintenis om ‘n verskil te maak aan die nood in die wêreld; dit is ‘n teken wat ons laat uitsien na die ewige lewe ens.)
- Wat is ‘n gepaste manier om die nagmaal te gebruik?
Doen saam:
- Woon saam die nagmaaldiens by.
- Laat jou kinders tuis ‘n prentjie teken / uit ‘n tydskrif prentjies sny van brood en wyn en plak dit op waar almal dit kan sien.
- Plaas hierdie week ‘n glasie wyn/sap en ‘n stukkie brood by ‘n kruis iewers in die huis om almal aan die nagmaal te herinner.
- Maak ‘n plakkaat (kinders) of Facebook inskrywing (tieners) van alles waarvoor jy wil dankie sê vir God.
- Maak toebroodjies of ‘n ete vir iemand anders / iemand in nood.
- Bak saam brood of braai saam stokbrood en gesels oor Jesus wat die Brood van die lewe is (Joh 6:35).
- Seën mekaar met die woorde: “Jesus het vir jou gesterf aan die kruis sodat jy kan leef!”
- Gebruik hierdie uitdeelstuk en laat kinders hul ervaring van die nagmaal neerskryf (dit is in kleur of swart en wit beskikbaar). Die prentjies hier onder kan ook gebruik word:
Nagmaal is ‘n wonderlike geleentheid om elke keer met jou kind/tiener oor geloof te gesels – moet dit nie laat verbygaan nie!
“Dit is my liggaam; dit is vir júlle. Gebruik dit tot my gedagtenis.” 1 Kor 11: 24b
Geskryf deur ds Anriëtte de Ridder (Predikant in Sinodale diens vir Jeug en Familiebediening van die Wes-Kaapland Sinode)