‘n Tiener vra: “Hoekom moet ons die hele Bybel lees en nie net die Nuwe Testament nie?”
Die Bybel is soos ‘n fliek
‘n Maklike manier om dit vir ‘n tiener te verduidelik is om die Bybel te vergelyk met ‘n fliek. Om die laaste (en belangrike deel) van die fliek te verstaan, help dit as jy die eerste deel van die storie gekyk het. As jy die fliek in die middel begin kyk, dan verstaan ‘n mens nie al die gebeure of karakters nie. Die impak van die fliek is dan minder. Dieselfde geld met die Bybel. Dit is ‘n versameling stories wat vertel van God se reis met die mens oor ‘n baie lang tyd. Jesus se koms het ‘n nuwe tydperk ingelei en daarom volg ons nie meer die wette of offerdiens of praktyke van die Ou Testament nie. Maar deur die Ou Testament te lees, verstaan ons die grootheid van Jesus se koms en die gawe van Sy genade soveel beter.
Die tiener vra verder: “Maar hoekom is sekere dele so vreemd?”
Die Bybel is soos Netflix
Die Bybel is ‘n versameling stories soos Netflix ‘n biblioteek van flieks en programme is. As jy die dag ‘n fliek wil kies om te kyk, dan moet jy eers besluit watter kategorie of genre fliek jy wil kyk… Action? Drama? Comedy? Series? Science-fiction? Jy gaan met ‘n verskillende ingesteldheid na elkeen kyk. Sommige flieks gaan jou laat lag, ander gaan jou iets leer. Soms gaan ‘n fliek jou laat ontspan, ander kere gaan dit jou uitdaag. Dieselfde geld vir die verskillende Bybel-boeke. Genesis en Psalms is verskillende tipe boeke en klink verskillend. ‘n Mens kan nie Jesaja en Johannes op dieselfde manier lees nie. Filippense en Openbaring is nie met dieselfde doel geskryf nie.
Wenke wanneer jy Bybel lees
- Ken die groot gebeure (storielyn) van die Bybel.
- As jy ‘n boek lees, vra jouself af waar in die storielyn dit inpas.
- Kyk of die tema van die teksgedeelte iets is wat deurlopend in die Bybel belangrik is, of net in daardie tydperk van die storie (bv. offers, slawerny, oorlog, kerk, genade, die Gees).
- Probeer om ‘n hele boek (bv. Lukas) deur te lees oor ‘n tydperk (en nie net los tekste nie).
- Vind meer uit oor die agtergrond en karakters in die verhaal.
- Laat die Gees jou lei om die waarheid in die verhaal te ontdek sodat die verhaal jou raak en vorm.