Skip to main content
Jong Volwassenes

Hoe kan ons millennials beter verstaan? Deel 2: Outentiekheid

By April 25, 2018No Comments

Wat is outentiekheid?

Outentiekheid gaan oor egtheid, oorspronklikheid en om die bron van iets te weet.  Die moderne mens se soeke na outentieke verhoudings, produkte en ruimtes kan gesien word as ‘n teenreaksie op die nywerheidsera waar die fokus was op massa produksie. Millennials word gekenmerk aan die behoefte om hulself (en ander) as unieke persone te erken en hulle heg ook meer waarde aan konteks en stories wat elke mens se ervarings beïnvloed. Die tegnologie era het verhoogde netwerke en kommunikasie tot gevolg, maar mense soek ook ter selfde tyd dieper konneksie en egtheid in verhoudings.  ‘n Verdere rede hoekom outentiekheid só ‘n belangrike tema geraak het, is die mens se strewe na etiese ekologiese bewussyn.  Organiese kos, “fair trade”, volhoubare ontwikkeling, en verantwoordbare produksie is alles hieraan verbind. Die opkoms van “neighborhood markets”, organiese produkte en “craft” bier / koffie / gin / roomys is uitdrukkings van hierdie terugkeer na die bron en outentieke ervarings.

Hoe beïnvloed die soeke na outentiekheid die kerk?

Gemeentes wat ruimte maak vir unieke geloofservarings, diversiteit in hul kerkraad en leierskap het, deursigtig is oor finansies en nadink oor volhoubare gebruik van hulle bronne is al voorbeelde van uitdrukkings hiervan. ’n fokus op mentorskap en die skep van ruimtes waar egte konneksie kan plaasvind is ook ‘n voorbeeld. Eerlike en egte prediking, etiese leierskap en die terugkeer na eenvoud is vir die moderne gelowige belangrik.

Hoe help dit ons om millennials beter te verstaan?

Millennials soek nie perfekte leiers nie, maar leiers wat ook eerlik is oor hulle tekortkominge. ‘n Leierskap struktuur wat ruimte bied vir ‘n verskeidenheid soort leiers (leierskap style, ouderdomme, diversiteit verteenwoordig) sal meer aanklank vind by hierdie geslag. Emosionele intelligensie, kulturele intelligensie, en spirituele intelligensie I vir hierdie generasie baie belangrik sowel as persoonlike geloofsgroei en ontwikkeling. Millennials wil nie as groep hanteer word nie en sal daarom aanklank vind by dinge soos mentorskap, ‘n verskeidenheid van groepe, en die erkenning van elkeen se unieke geloofsreis.

Gespreksnotas saamgestel deur Anriëtte de Ridder tydens ‘n byeenkoms van die Jong Volwasse Leer Gemeenskap in Februarie 2018.