Skip to main content

Mandela-dag word elke jaar op 18 Julie gevier. Oudpresident Nelson Mandela se voorbeeld as dienende leier inspireer Suid-Afrikaners van verskillende agtergronde om jaarliks deel te neem aan hierdie veldtog om ‘n verskil te maak deur 67 minute gemeenskapsdiens te doen.

As Christene en jeugleiers kan ons beslis hierby aanhaak, omdat dit so sterk resoneer met ons eie geloofsoortuigings.

Hoe doen ‘n mens dit?

Luister hier na die podcast:

Eerstens, dink aan iets wat maklik haalbaar en uitvoerbaar is en hou die ouderdom van jou kategese groep in gedagte. Dink dalk ook aan iets wat elkeen in hulle eie tyd kan doen of voorberei. Bv. skryf briewe vir die plaaslike ouetehuis, maak kaartjies vir die polisie of verpleegpersoneel, samel komberse of klere in vir die oornagskuilings.

Tweedens, dink aan jou eie plaaslike nood en konteks. Waarby is julle as gemeente of gemeenskap reeds betrokke waarby julle kan inskakel? Dit maak dit makliker vir jou as kategeet, omdat jy bloot jou energie by iets kan voeg wat reeds gedoen word.

Derdens, gee dalk 2 opsies vir jou groepie sodat almal maklik kan deelneem. Nie almal het die vermoë om iets te kan skenk nie, maar kan dalk tyd gee om dit te pak. Sommige hou van kaartjies maak, ander sal eerder dit gaan aflewer.

Vierdens, dalk moet jy eerder aan gesinne dink as net aan jou groeplede. Dit is ‘n ideale geleentheid vir ‘n gesin om byvoorbeeld sop te kook vir ‘n sopkombuis of hondekos te gaan aflewer by die DBV.

Vyfdens, maak gebruik van jongmense se vaardighede. Tieners of kinders kan stories voorlees en opneem op hulle fone, wat dalk aan kleuterskole gestuur kan word of tieners kan oulike video’s maak om ‘n projek of instansie op die dorp te bemark.

Laastens – onthou om jongmense self te betrek by die reëlings en luister ook na hulle kreatiewe idees! Laat jongmense en kinders ook mekaar uitdaag of inspireer.

Nelson Mandela het gesê:

“What counts in life is not the mere fact that we have lived. It is what difference we have made to the lives of others that will determine the significance of the life we lead.”

Hier is nog praktiese idees

Jy kan op die prentjies klik om dit af te laai.

Leave a Reply