Skip to main content

Skink ‘n koppie tee

In tye van hartseer of swaarkry, maak mense soms vir mekaar koffie of tee. Die warm koppie of beker in jou hande, voel warm, die soet smaak van die koffie of tee en die sagte gevoel van die rusbank waarop ons sit, maak baie keer dat ons reeds rustiger voel. Soms kan mens dalk ook om ‘n tafel sit en tee drink, en dan herinner dit ons dat ons nie alleen is nie. Deur mekaar drukkies te gee of mekaar vas te hou, herinner ons ook daaraan dat ander mense by ons in moeilike tye is.

Karlien se gesin het die mooiste, ou boom in hulle tuin gehad. Sy was mal daaroor om onder die boom te lees of om met haar karretjies in die grond onder die boom te speel. Een aand het ‘n woeste wind die boom omgewaai en hulle moes die boom uitkap. Karlien was baie hartseer en het gehuil omdat sy nou nie meer onder die boom kon sit nie. Hulle gesin besluit toe om vir die boom totsiens te sê. Hulle het langs die plek gaan staan waar die boom altyd gestaan het en haar ouma het begin vertel hoe sy en haar man, Karlien se oupa, altyd onder die boom piekniek gehou het voordat hulle getroud is. Hulle het selfs hulle eerste soen vir mekaar onder die boom gegee. Karlien se oupa het ook sy ouma onder die boom gevra om te trou.

Karlien se ma vertel toe hoe opgewonde sy was die dag waarop haar pa vir haar ‘n swaai uit ‘n ou motorband gemaak het en aan dié boom opgehang het. Daar het sy baie keer geswaai en selfs Karlien het later op dieselfde swaai geswaai. Karlien se ma het ook net soos Karlien graag onder die boom gesit en lees.  Terwyl Karlien haar trane afdroog, vertel sy hoe haar oupa haar in hierdie boom, die vorige jaar leer boomklim het.

Nadat Karlien na al die stories geluister het, besef sy, dat hoewel sy nou hartseer is oor die boom wat nie meer daar is nie, daar ook baie goeie herinneringe is wat hulle as gesin nou vir baie lank kan koester. Gelukkig kan hulle mekaar aan die mooi herinneringe herinner.

Bring saam:

‘n Bord
‘n Pomelo of suurlemoen
‘n Lemoen of nartjie
‘n Blinddoek
‘n Hoed (of teepot) waarin almal in die huis se name op aparte papiertjies geskryf is
Elkeen in die huis se gunsteling koppie of beker
Bestanddele om tee of koffie mee te maak.

YSBREKER

Sny die pomelo of suurlemoen en lemoen of nartjie in skyfies wat almal ongeveer dieselfde lyk. Meng die skyfies en plaas dit op ‘n bord. Elkeen in die huis moet ‘n kans kry om die blinddoek aan te sit en een van die skyfies op die bord te neem en te eet. Party lede sal ‘n bitter of suur smaak in hulle mond kry, terwyl ander weer ‘n soeter smaak sal kry.

Gee vir mekaar kans om te gesels oor watter smake hulle geproe het.

LUISTER (kop)

In die boek Rut, lees ons die verhaal van Naomi en haar gesin, wat in Betlehem woon. Dit gaan baie swaar. Daar is ‘n droogte, wat in die tyd van die Bybel beteken het dat daar nie genoeg kos vir al die mense was nie. Naomi en haar gesin het daarom besluit om na ‘n ander land, Moab, waar daar meer kos was, te trek.

Net nadat hulle in Moab aangekom het, sterf Naomi se man. Haar twee seuns trou toe later met Moabitiese vroue, Orpa en Rut, maar altwee seuns sterf ook kort daarna. Die dood van Naomi se man en haar seuns was vir haar baie swaar en dit het haar baie hartseer gemaak. Na ‘n rukkie besluit sy toe om terug te trek na Betlehem toe, waar daar nou weer meer kos was. Rut, haar een skoondogter, besluit toe om saam met haar terug te trek.

Toe Naomi en Rut weer in Betlehem aankom, was die mense baie opgewonde om weer vir Naomi te sien en hulle het haar met blydskap verwelkom.

Lees in Rut 1:20-21 om te sien wat Naomi haarself noem toe sy weer in Betlehem kom.

As ons die res van die storie lees, sien ons dat dit al hoe beter met Naomi en Rut gaan. Naomi kom mettertyd agter dat God tog by haar is, al het sy vroeër alleen gevoel. Al het dit vir haar gevoel asof God ver van haar af weg is, ontdek sy dat Hy altyd vir haar sorg – veral ook wanneer sy swaar kry.

In Rut 4:14 lees ons dat die Here haar gehelp en geseën het met ‘n nageslag.

GESELS (hart)

  • Naomi gee haarself die naam “Bitter.” Watter dinge proe bitter?
  • Kan jy dink aan tye waar jy gevoel het dat die lewe “bitter” is? Wat is die dinge in die lewe wat ons hartseer of kwaad laat voel?
  • Waar dink jy is die Here wanneer jy so voel?
  • Dink jy die Here was by Naomi terwyl sy bitter gevoel het?
  • Op watter maniere voel ons dat God by ons is?
  • Op watter maniere kan ons vir ander mense troos wanneer hulle hartseer of kwaad voel?
  • Is daar iemand wat nou hartseer is vir wie jy kan gaan troos?

LEEF (hand)

Elkeen in die gesin kry die kans om iemand (anders) in die huis se naam uit die hoed of teepot te trek. Indien iemand hul eie naam trek, moet hulle ‘n nuwe naam trek of met iemand anders ruil.

Vra nou vir die persoon wie se naam jy getrek het of hulle tee of koffie wil hê en hoe hulle daarvan hou om dit te drink. Maak dit vir hulle in hulle gunsteling beker en drink saam hierdie tee of koffie.

  • Vertel nou vir mekaar van ‘n keer dat iemand jou getroos het. Hoe het daardie persoon jou laat voel?
  • Herinner mekaar daaraan dat dit ook die manier is waarop God ons troos – deurdat ons mekaar ondersteun en na mekaar luister.

AANBID (vlam)

Dink saam aan iemand wat julle ken of van gehoor het met wie dit op die oomblik sleg gaan. Bid as gesin saam vir hierdie persoon of persone.

NOG IDEES:

Onthou-kers:

Steek ‘n kers aan wanneer iemand in die huis/groter familie of selfs vriende sterf.  Deel dan ook mooi herinneringe van hierdie persoon met mekaar terwyl jul onthou dat God by julle en daardie persoon se naastes teenwoordig is.

Herinneringe fles:

Skryf julle gunsteling herinnering, sêgoed en eienskappe van die persoon wat oorlede is / weggetrek het op klein papiertjies neer. Gooi dit in ‘n groot fles of houer. Lees dit wanneer jy na die persoon verlang.

Plant nuwe lewe

Plant ‘n plantjie of boom vir die persoon/troeteldier wat oorlede is. Hierdie boom of plantjie help ons om die persoon of troeteldier wat ons verloor het te onthou. Dit herinner ons ook dat God weer lewe gee en dat die dood nie die laaste sê het nie.

Plakboek of uitstalling

Deel van genesing, is om te onthou. Maak ‘n plakboek met foto’s, of ‘n uitstalling wat jou herinner aan iemand wat jy mis. As jul gaan verhuis, laat elkeen iets van die ou huis in ‘n boks bêre of foto’s neem van hulle gunsteling plek in die huis. As jy terug verlang, maak die boks oop en kyk deur die items.

Hou mekaar vas:

Dit is belangrik om mekaar drukkies te gee wanneer ons swaar kry. Gee mekaar drukkies, veral wanneer kleiner kinders moeilik of neulerig raak.

Ek voel…:

Maak ‘n plakkaat vir die huis met verskillende gesiggies met verskillende gesigsuitdrukkings (of emoji’s) op. Elkeen in die huis kan dan soggens, smiddae of saans kans kry om te wys hoe hulle voel en hoekom. Dit kan ook ‘n gesprek begin waar julle aan mekaar erken dat ‘n mens ook soms kwaad, hartseer of bang mag voel en dat hierdie emosies nie sleg of verkeerd is nie.

Doen dinge saam:

In tye van swaarkry, is dit goed om dinge saam te doen. Daarmee herinner julle mekaar daaraan dat julle nie alleen is nie. Maak dalk saam kos, skryf iets saam, maak saam die huis aan die kant of gaan pluk saam blomme.

Wees dankbaar:

Dit is ook goed om dankie te sê vir die goeie dinge in swaar tye. Dalk kan julle briefies skryf of kaartjies maak vir mense (wat julle bygestaan het) in swaar tye.

 

Uittreksel uit die boek Ons Huis Vier – Anriëtte de Ridder en Maartje van der Westhuizen

Huisgeloof-reeks Ons huis vier

Leave a Reply