Skip to main content

NG Stellenbosch Moedergemeente deel hier vier Groot Lydensweek meditasies vir gesinne met kinders.

 

Groot Lydensweek

It Was the Best of Times; It Was the Worst of Times

Hierdie frase kom uit die bekende openingsparagraaf van Charles Dickens se boek A Tale of Two Cities, “It was the best of times, it was the worst of times, it was the age of wisdom, it was the age of foolishness, it was the epoch of belief, it was the epoch of incredulity, …” Dis in die tyd van die Franse Rewolusie. Ek is van mening dat ons terug gaan kyk oor die tyd van die Covid 19-pandemie en weer Dickens se woorde gaan bepeins.

Die wêreld gaan lank vat om uit die ekonomiese greep van dié virus te kom. Maar in ander opsigte ervaar ons reeds wat die stilte en gedwonge saamwees in huise aan ons doen. Ek raak in hierdie dae veral weer bewus van die natuur en haar grootsheid. Dis asof ek die voëls helderder hoor sing soggens. Ek hoor selfs deur die dag die paddas in die agtertuin.

Ek wil gesinne nooi om die paar dae voor Goeie Vrydag tyd te maak om saam te besin oor 4 eenvoudige beelde uit die natuur wat ons iets van die kontras tussen dood en lewe wil kom leer.

Maandag

Steek ‘n kers aan

Lees Joh 12:23,24

  • Wanneer Jesus sê: As ‘n koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy een; maar as hy sterwe, bring hy ’n groot oes in, verwys Hy natuurlik ook na sy eie sterwe wat om die draai is op Goeie Vrydag. Wat beteken hierdie woorde vir ons gesin en vir my persoonlik in hierdie tyd?
  • Is daar iets wat ons gesin in die tyd moet afsterf of afleer; sodat iets nuuts gebore kan word? Praat met mekaar hieroor.
  • Gaan plant ‘n paar saadjies in die tuin (sweet peas vir die lente) of sommer ‘n paar groente plantjies. Hou dit dop. Neem elke 3 weke foto’s en kyk watter verrassing gebeur nadat die saadjies of plantjies in die grond gedruk is.

Gebed: Here, kom wys wat ek of ons gesin moet afsterf in die tyd. Ons wag op nuwe goed wat U in ons lewens wil kom doen.

Dinsdag

Steek ‘n kers aan

Lees Joh 15:1,2

  • Herfs en winter is snoeityd. Vir sekere plante of bome om behoorlik blomme of vrugte te dra in die somer, moet hy gesnoei word. As ‘n wingerd bv. nie gesnoei word nie, word sy lote wild en word die vrugte al hoe kleiner.
  • ‘n Snoeiproses is dikwels pynlik. Gesels met mekaar oor moeilike en pynvolle ervarings wat julle as gesin al deurgegaan het. As julle terugkyk, sou jy sê dit was vir jou ‘n snoeiproses?
  • Watter vrug sien julle in mekaar raak? Sê vir mekaar.
  • Gaan staan almal in die tuin om ‘n plant of boom wat gesnoei moet word. Knip ‘n tak of twee. Neem dan mekaar se hande en bid saam vir julle gesin en ons gemeenskap. Bid dat mense hierdie tyd sinvol sal gebruik en dat dit ‘n tyd van herbelyning sal wees vir almal.

Woensdag

Steek ‘n kers aan

Lees Joh 15:15-17

  • Joh 15:16 sê ons is gemaak om vrugte te dra, waarvan die belangrikste is dat ons mekaar sal liefhê.
  • Die Libanees-Amerikaanse skrywer Kahlil Gibran skryf die volgende oor gee: Therefore give now, that the season of giving may be yours . . . You often say, “I would give, but only to the deserving.” The trees in your orchard say not so, nor the flocks in your pasture. They give that they may live, for to withhold is to perish (sien volledige hoofstuk oor Gee by http://www.katsandogz.com/gibran/ongiving.php)
  • Die natuur leer ons die noodsaaklikheid van gee – dit maak dat ons kan leef. Deel hoe en wat julle vir mekaar kan gee in die tyd.

Gebed: Alles wat ons het is ‘n geskenk uit U hand. Gee ons oop harte en hande vir hulle in nood. Amen

Donderdag

Steek ‘n kers aan

Lees die gedig Vroegherfs van NP van Wyk Louw

Die jaar word ryp in goue akkerblare,
in wingerd wat verbruin, en witter lug
wat daglank van die nuwe wind en klare
son deurspoel word; elke blom word vrug,
tot selfs die traagstes; en die eerste blare val
so stilweg in die rookvaal bos en laan,
dat die takke van die lang populiere al
teen elke ligte môre witter staan.

O Heer, laat hierdie dae heilig word:
Laat alles val wat pronk en sieraad was
of enkel jeug, en ver was van die pyn;
laat ryp word, Heer, laat u wind waai, laat stort
my waan, tot al die hoogheid eindelik vas
en nakend uit my teerder jeug verskyn.

  • Dit is betekenisvol dat Paasfees met sy dieptepunt op Goeie Vrydag in die Suidelike Halfrond in die Herfs seisoen val. Ook hier wil die natuur ons iets leer wanneer bome hulle blare afgooi totdat hulle heeltemal weerloos en kaal staan. Op die oog af lyk dit na ‘n dooie seisoen. Maar wat ons nie kan sien nie, is dat die bome hulle wortels dieper instoot en dat daar ‘n jaarring bykom in die boom se stam.
  • Laat elkeen in die gesin ‘n herfsblaar neersit langs die brandende kers. Deel met mekaar wat jy afgooi en laat val in hierdie tyd.

Gebed:

O Heer, laat hierdie dae heilig word:
Laat alles val wat pronk en sieraad was
of enkel jeug, en ver was van die pyn;
laat ryp word, Heer, laat u wind waai, laat stort
my waan, tot al die hoogheid eindelik vas
en nakend uit my teerder jeug verskyn.

Leave a Reply