Skip to main content

Is “geloof” te moeilik vir kinders?

Ek onthou hoe my tweejarige seuntjie, Daniël, vir my gevra het, “ Waar is Jesus?”. My antwoord, dat Hy hier is al kan ons hom nie sien nie, was vir Daniël skreeusnaaks. Ek het probeer verduidelik dat Hy in ons woon en altyd naby ons is, maar dit het maar gesukkel. Uiteindelik het ek Jesus vergelyk met ons asem – ons het “asem” nodig en dis in ons en om ons. Ons kan ons asem “voel”, maar ons kan dit nie sien nie. Dié verduideliking het so bietjie beter gewerk. Dit het nou ‘n ritueel geword dat ons saans, as ons bid, ook na ons asemhaling luister en dit “voel” as ons dit uitblaas.

Dalk is jy ook al “vasgevra” deur ‘n kind of tiener oor ‘n vraag wat jy verstaan, maar waarvoor daar by hom/haar maar min begrip is. Hoe, waar en wanneer vrae oor God is algemeen by kinders (Bv. hoe kan God hier wees én in Amerika? Hoe kan Jesus na almal se gebede gelyk luister?). Tieners worstel weer met vrae soos wat is die sin van die lewe, hoe hoor ek God se stem en waarom is daar soveel seer en onregverdigheid in die wêreld.

Somtyds voel ons hulpeloos om ons geloof aan ons kinders of tieners te verwoord. Dan is dit belangrik om te onthou dat geloof iets is wat ontwikkel soos kinders ouer word. Volwasse geloof neem dus tyd om te groei en te ontwikkel. Alhoewel kinders nog nie werklik abstrakte geloof kan verstaan nie, is geloof egter iets wat van kleintyd af (toepaslik) gevestig moet word. Aanvanklik word geloof gedeel deur (Bybel) stories te vertel en saam met kinders gewoontes aan te leer (soos sing, bid, Bybellees, kerk toe gaan en omgee vir ander). Maar later is dit juis hierdie basis wat nodig is vir tieners om hulle geloof verder te ontwikkel.

Die geloofsgroei en denke van kinders na tieners kan as volg opgesom word:

  • Konkreet na abstrak: Konkrete feite en Bybelstories is vir kleintjies toepaslik eerder as gelykenisse. Hulle kan nog nie die denkspronge maak om metafore of simbole te verstaan soos tieners nie.
  • Van groep na individu (selfkonsep): Die tyd waar kinders gewoonlik vir Jesus “self aanvaar” is eers rondom Gr.6 – 8. Klein kinders wil deel wees van die groep. Die behoefte aan ‘n eie identiteit (en dus keuses) vorm eers later.
  • Van stories na refleksie: Tieners kan makliker as kinders die waarde of beginsel agter die verhaal insien terwyl kinders bloot die feite van die storie kan verstaan.
  • Van speel na ervaar: Pret, kuns en saamdoen aktiwiteite is belangrik by kinders terwyl ervaringsleer soos kampe, uitreike en diensprojekte treffers is by tieners.
  • Van onthou na internaliseer: Kinders onthou bloot die feite, maar ouer kinders en tieners kan daaroor reflekteer, gesels, dit internaliseer en toepas.
  • Van absolute aanvaarding na vrye keuse: Kinders volg die opinies van die volwassenes wat hulle liefhet en respekteer, terwyl tieners geloofskwessies kan bevraagteken en opinies kan vergelyk.

Geniet elke oomblik van jou kind/tiener se geloofsreis. Laat toe dat God jou ook vorm deur hulle ervarings en vrae. Gesels baie oor God en maak geloofsgewoontes ‘n alledaagse deel van julle as gesin se lewe saam.

Soos pasgebore kindertjies smag na melk, moet julle smag na die suiwer geestelike melk, sodat julle daardeur kan opgroei en die saligheid verkry. 1 Pet 2:2

Geskryf deur ds Anriëtte de Ridder (Predikant in Sinodale diens vir Jeug en Familiebediening van die Wes-Kaapland Sinode)