12 wenke om geloof deel van elke dag te maak
Geloofsgewoontes is gewoontes wat jou deurlopend help om geestelik te groei. Net soos die gewoontes van tande borsel, bad en drie etes per dag ons help om skoon te leef en gesond te wees, is dit belangrik om ook alledaagse geloofsgewoontes te hê wat jou en jou kinders geestelik voed. Deur elke dag geloof te “oefen”, versterk ons dit en groei ons saam!
Kan jy dink aan enige gewoontes of rituele in julle gesin wat julle reeds in plek het bv. Bybelstories lees, voor ete bid, kerk toe gaan ens.? Gesels saam oor watter nuwe gewoontes julle kan deel maak van julle gesinslewe. Hier is ‘n paar voorstelle:
- Maak elke week na kategese en kerk tyd om saam oor die boodskap te gesels.
- Skryf die teks of boodskap van die week iewers sigbaar neer.
- Kinders kan dit ook teken / opsoek in hul Kinderbybels.
- Tieners kan agtergrond inligting of die teks in ander vertalings saam met ouers op die internet soek.
- Lees saam as gesin ten minste een maal per week die Bybel/Kinderbybel en bespreek die verhaal/teks. Gee gereeld vir jou kinders ‘n bemoedigende teks in hul kosblik of SMS jou tiener/eggenoot.
- Maak tyd om sekere vaste etes saam te eet en gesels dan oor elkeen se hoogte- en laagtepunte van die dag.
- Maak ‘n gebedsbord waar foto’s van familie/vriende of koerantartikels geplak kan word. Kies by elke ete een persoon/saak om voor te bid.
- Bid deur die loop van die dag, nie net saans nie. Bid onmiddellik saam vir ‘n saak sodat gebed natuurlik deel vorm van julle saamwees.
- Gebruik tyd in die motor om te dink waarvoor jul dankbaar is of saam na geestelike musiek te luister/te sing.
- Vertel gereeld vir mekaar Bybelstories en verbind dit aan jul eie stories.
- Seën mekaar soggens, voor julle vertrek, as julle by die huis kom en saans.
- Gebruik simbole in jul huis om julle te herinner aan die kerkjaar (bv. vir Hemelvaart, Pinkster, Advent, Kersfees ens.)
Hierdie gebooie wat ek jou vandag gegee het, moet in jou gedagtes bly. Jy moet dit inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan. Jy moet dit as herinneringsteken vasbind aan jou hande, en dit moet ‘n merk op jou voorkop wees. Skryf dit op jou deurkosyne en op jou stadspoorte. Deut 6: 6-9
Geskryf deur ds Anriëtte de Ridder (Predikant in Sinodale diens vir Jeug en Familiebediening van die Wes-Kaapland Sinode)