Het jy gedink debriefing is net vir na kampe? Dink weer! Debriefing is ‘n belangrike stap, nie net vir kamp-opvolg nie, maar ook vir refleksie na enige aktiwiteit of uitstappie. Dit kan enige tyd en enige plek gedoen word, byvoorbeeld na ‘n kategese les, kerkdiens, uitreik of selfs ‘n koffie-afspraak. Ouers kan debriefing tegnieke sinvol daagliks toepas om verhoudings te bou in die gesin.
Debriefing is nie ‘n manier om te evalueer waar die persoon geestelik staan nie, maar ‘n manier om daardie persoon se persoonlike en geestelike groei te fasiliteer. Dit help ‘n persoon om ‘n ervaring (positief of negatief) te evalueer, te internaliseer en daardeur te groei.
Hier volg 6 stappe om ‘n debrief-sessie te lei:
- Hoe was die ervaring: Reflekteer gevoelens en ervarings. Het jy dit geniet, was dit lekker, was dit moeilik, het jy gesukkel met iets, wat het vir jou uitgestaan?
- Wat het jy geleer: Verbind dit aan regte lewensituasies. Het jy dit al ervaar in jou lewe, iets van jouself, ‘n waarheid, ‘n les/waarheid oor ‘n sekere onderwerp?
- Wat gaan jy toepas: Hoe gaan jy dit wat jy geleer het, prakties toepas in jou lewe? Kan jy aan soortgelyke situasies dink?
- Gesels oor die geestelike betekenis: Bou ’n brug tussen wat ervaar is en die persoon se geloof. Watter geestelike impak het dit op sy/haar lewe? Hoe dink hy/sy was God betrokke? Hoe versterk dit jou geloof? Ontlok dieper gesprek met oop vrae.
- En onthou: Luister eers! Moenie dadelik raad of antwoorde gee nie. Om self ‘n waarheid te ontdek, het ‘n veel groter impak.
- Soms is daar ‘n geleentheid om raad te gee, te getuig of ‘n waarheid te deel. Gebruik die geleentheid, maar hou dit kort. Moenie prekerig raak nie. Wees opreg, gee voorbeelde, vertel ‘n storie en wees bereid om jou eie tekortkominge te deel.
Om te debrief is nie nét ‘n manier om geestelik te groei nie, maar ook ‘n manier hoe ons verhoudings met mekaar verdiep en hoe ons connected bly aan die mense vir wie ons omgee.
Daar is verskillende tipes debriefing:
- Instant debrief: Dit is ‘n goeie manier om onmiddellike persepsies en gevoelens te toets. “Het jy gesien wat ek gesien het? Hoe het jy daaroor gevoel?”
- Daily debriefs: Neem die tyd om werklik belang te stel. “Hoe gaan dit met jou? Hoe voel jy vandag? Waarmee het jy vandag gesukkel? Waar het jy vir God gesien of beleef?”
- Post-trip debriefs: Laat ‘n groep na ‘n gebeurtenis, ervaring of aktiwiteit hulle belewenisse, foto’s en stories met mekaar deel. Gee ook geleentheid vir dieper nabetragting en refleksie.
Jesus is ‘n goeie voorbeeld van iemand wat gereeld ge-debrief het. Toe die dissipels terug gekom het van hulle Lukas 10 uitreik, het Jesus hulle ge-debrief om sin te maak van hulle ervaring.
Hoe Jesus dit gedoen het:
- Die dissipels gee terugvoering van hul ervaring. “Here, selfs die bose geeste onderwerp hulle aan ons by die hoor van u Naam.”
- Jesus verduidelik die geestelike betekenis.“Ek het die Satan soos ‘n weerligstraal uit die hemel sien val.”
- Jesus sit dit in perspektief vir die dissipels se lewe. “Wees veral bly omdat julle name in die hemel opgeskryf is.”
- Jesus moedig sy dissipels aan. “Hoe bevoorreg is die oë wat sien wat julle sien.”
Debriefing vrae wat jy kan vra:
- Wat was vir jou hoogte- en laagtepunte?
- Wie het jou die meeste aangemoedig vandag?
- Het jy jou doelwit bereik?
- Wat het deur jou gedagtes gegaan?
- Hoe het jy gevoel? En hoe voel jy nou?
- Het iets (van jouself) jou teleurgestel?
- Wat was vir jou verrassend?
- Waaraan het dit jou laat dink?
- Het die ervaring jou verander of beïnvloed?
Geskryf deur ds Anriëtte de Ridder (Predikant in Sinodale diens vir Jeug en Familiebediening van die Wes-Kaapland Sinode).