Skip to main content

GAWES

Agtergrond:

Gawes is geskenke van God wat deur die Gees aan gelowiges gegee word om hulle toe te rus om mekaar te dien en ‘n verskil te maak in die wêreld. Hierdie gawes kan talente of natuurlike eienskappe insluit of sterkpunte wees wat oor tyd ontwikkel. Jou voorkeure en ervarings kan ook jou gawes vorm. Sommige gawes lyk in vandag se tyd meer alledaags soos gasvryheid of diensbaarheid en ander voel vir ons meer besonders of uitsonderlik soos profesie en praat in tale. Maar elke gawe is ewe belangrik en geen gawe kan uit eie verdienste verkry word nie.

Die gebeure in die boek Korintiërs wys vir ons op die gevare van die misbruik van gawes soos wanneer ons dit ‘n teken wil maak van mense se “geesvervuldheid” of as die gebruik daarvan verdeeldheid bring. Maar die teks herinner ons ook aan die krag van gawes, wanneer ons dit in liefde gebruik om mekaar te bemoedig en te versterk. Die maklikste manier om jou gawes te “ontdek” is om eenvoudig diensbaar te raak!

Vir meer hieroor volg die skakel: http://www.onsglo.co.za/2017/02/06/gawes/

Bespreking

Lees en gesels saam oor die verhaal van Debora in Rigters 4:1-10

  • Dit is uitsonderlik om ‘n vroue leier (rigter), profetes en bevelvoerder van Israel te ontmoet. Wat sê haar verhaal vir jou?
  • Watter gawes het Debora? Kan jy aan iemand dink wat ook hierdie gawes het?
  • Dink jy ‘n mens kan verskillende gawes in verskillende omstandighede hê?
  • Vertel van ‘n geleentheid waar jy iemand bemoedig het of met wysheid bedien het.

Uitdaging

Kyk of jy ‘n reuse lang lys van gawes kan maak. Gebruik tekste soos 1 Korintiërs 12:1-11, Romeine 12:4-8, Efesiërs 4:11-13, 1 Petrus 4:8-11, Eksodus 28:1-3,11 en Eksodus 31:1-6. Dink ook aan mense in die Bybel en watter van hulle eienskappe God gebruik het. Kyk of jy meer as 50 gawes op jou lys kan kry. Vra vir iemand om die gawes op jou lys te omkring wat hul tans in jou lewe raaksien. 

Laai die onsglo app af in die google playstore of die appstore

of besoek die webtuiste: www.onsglo.co.za.