Skip to main content
Erediens: Kerkjaar

Pinkster: Om te wag en te bid

By May 24, 2022No Comments

Intergenerasionele erediens wenk

Tema: Pinksterdienste (om te wag en te bid)

Die meeste gemeentes vier hierdie week Pinkstertyd. Gebruik tyd in die erediens om seker te maak almal weet waar Pinkster inpas in die kerkjaar kalender, hoekom ons dit met Pinksterdienste herdenk en hoe ons dit prakties kan vier.

Pinkster

Versier die liturgiese ruimte met oranje en rooi lap en kerse.
Verduidelik dat die kleure en kerse wat veral op Pinksterdag gebruik word, rooi en goud is om die tonge van vuur wat neergedaal het, te simboliseer. (Hand 2:3) Volgende week vier ons Pinksterfees, maar hierdie hele week vooraf dink ons in die kerk aan die Pinkstergebeure wat in die 10 dae na Hemelvaart plaasgevind het.

Die dissipels het na Jesus se Hemelvaart, soos wat Hy hulle beveel het, in Jerusalem bymekaargekom en vir 10 dae was hulle ongeveer 120 gelowiges wat saam gewag het vir die koms van die Heilige Gees. (Hand 1:4-5, 12-15)

In die NG Kerk
Die NG Kerk het ‘n wonderlike tradisie om tydens die 10 dae voor Pinkstersondag Pinksterbidure of -dienste te hou. Het julle geweet dié gebruik is vanjaar 160 jaar oud? In 1860 verhuis dr Andrew Murray na Worcester. Hy en ‘n paar ander predikante reël ‘n konferensie (18 en 19 April 1860) op Worcester waar meer as 300 mense saamkom om te bid. Daar volg ‘n geestelike herlewing wat uitspoel deur die hele Kaapse platteland. Onder leiding van die Heilige Gees is ds GWA van der Linden van die Paarl die sleutelfiguur in die herlewing en die eerste Pinksterbiduur vind onder sy leiding op 9 Mei 1861 plaas in die Strooidakkerk. Die gemeentes het getuig van herlewing en verskeie wonder-gebeure soos toe’n 15-jarige meisie gebid het en die kerkgebou begin rammel en skud het. Sedert 1862 is die gebruik van Pinksterbidure regdeur ons kerk gevestig en het dit tot nuwe lewe in honderde gemeentes en in die lewe van duisende lidmate gelei.

Net soos die dissipels gewag het vir die koms van die Gees in die bovertrek en saam gebid het, het gelowiges in die NG Kerk al oor die afgelope 160 jaar, ook getrou gewag en gebid tydens Pinksterdienste met ‘n fokus op die Heilige Gees.

Om te wag
Vra ‘n oop vraag soos een van die volgende vir gesprek in die banke…

  • Moes jy al ooit vir iets gewag het wat vir jou belangrik was?
  • Wat het jou opgeval oor die storie van Pinkster in die bovertrek en die storie van Pinksterbidure se ontstaan in die NG Kerk?

Simboliese handeling

  • Laat gemeentelede kersies aansteek as simbool daarvan dat hulle vra dat die Gees opnuut vir hulle ‘n passie aansteek vir Jesus.
  • Laat gemeentelede elk ‘n stukkie oranje lint of wol neem en iewers vasbind om te onthou om daagliks te bid.

Nog skakels:

Kerkjaar kalender om te verduidelik waar Pinkster inpas: https://dinkjeug.co.za/kerkjaar-kalender/

Nog Pinkster simbole: https://dinkjeug.co.za/simbole-vir-pinkster/

Nog skakels na Pinkster aktiwiteite vir kinders: https://dinkjeug.co.za/hemelvaart-pinkster/

Nog skakels oor die geskiedenis van die NG Kerk se Pinksterbidure:

https://bybelkoerant.co.za/2021/05/13/waar-kom-die-pinksterbidure-in-die-ng-kerk-vandaan/

https://www.afrikanergeskiedenis.co.za/geestelike-herlewing-en-pinksterbidure/

https://ngkerksomerstrand.co.za/die-krag-van-gebed-pinkster-2016/

Leave a Reply