Intergenerasionele erediens wenk
Tema: Ons maak ‘n verskil (Gewoonte 5)
Hierdie Sondag is die vierde Sondag van Lydenstyd en daarom word die vierde kers van die sewekandelaar doodgeblaas. Ons is besig met ‘n reeks “7 Gewoontes vir Gesinne” en hierdie week se tema is “Ons maak ‘n verskil”.
Hulpmiddels: Sak albasters, groot bak gevul met water
Verduidelik Lydenstyd en die gewoonte om ‘n verskil te maak
In Lydenstyd word daar gefokus op die lyding van Jesus asook op die swaarkry en lyding in die wêreld. Ons bid vir mense wat swaarkry en doen praktiese dade om hulle te ondersteun. Die doringkroon simbool van Lydenstyd herinner ons dat Jesus medelye het met mense en dat Hy ons swaarkry verstaan. Hy is ‘n koning (daarom ‘n kroon), wat regeer deur sy lewe weg te gee en te ly (dorings). Hy wys vir ons dat ons ‘n verskil kan maak deur ons lewe te gee en diensbaar te wees.
Albasters en water ritueel
Vra die vraag – wat gebeur as ons ‘n klippie in ‘n dam water gooi?
Verduidelik dat een klein klippie ’n rimpel effek kan hê wat groot kringe vorm.
Op dieselfde manier vra die Here ons om vir mekaar en ander te help. Klein dade van omgee kan ‘n groot effek hê.
Noem ‘n voorbeeld uit julle gemeente of vertel van die teddiebeer vir Turkye projek van NG Albertinia se kinders. (https://kaapkerk.co.za/teddiebere-vir-turkye/)
Gesels: Dink aan ‘n persoon wat swaarkry of ‘n saak wat jy wil ondersteun. Hoe kan jy prakties ‘n verskil maak? (Jy sou ‘n lys kon wys van mense wat siek is in julle gemeente of projekte wat mense help).
Gebed: Bid nou vir dié persoon wat swaarkry of die saak saam. Bid ook vir jongmense wat by die #imagine fees is dié naweek waar hulle ook uitgedaag word om ‘n verskil te maak vir Jesus. (https://www.facebook.com/imaginemove)
Aksie: Gee nou die geleentheid vir elkeen wat wil om ‘n albaster in ‘n groot bak water te gooi om die rimpels te sien en te onthou dat klein dade van omgee ‘n groot verskil kan maak.
Herinner almal om die DinkJeug Familie App af te laai en daagliks hierdie week te gebruik vir huisgeloof.
Laai die app gratis af by:
Google Play: https://play.google.com/store/apps/details?id=com.dinkjeug.dinkjeugapp&hl=en
Apple iStore: https://apps.apple.com/za/app/dinkjeug-families/id1504077715
7 Gewoontes vir Gesinne se volgende temas is:
26 Mrt |
Gewoonte 6: Ons vertel stories |
2 Apr |
Gewoonte 7: Ons gebruik simbole (Groot Lydensweek) |