Intergenerasionele erediens wenk
Tema: Ons gebruik simbole (Gewoonte 7) Groot Lydensweek
Hierdie Sondag vier ons Palmsondag en die begin van Groot Lydensweek. Ons sluit die “7 Gewoontes vir Gesinne” reeks af met die tema: Ons gebruik simbole.
Hulpmiddels: Kruis, tak wat lyk soos ‘n palmtak, olywe, seep, paasbolletjie en sap, marshmallow visse, Ichtus simbool, ‘n bak met ‘n paar vetplante (wat lyk soos ‘n tuintjie), hol paaseiers. Rol gerus die uitdeelstukke ook af vir elke gesin.
Ons gebruik simbole
Verduidelik dat simbole ons help om te onthou en ons geloofstories te vertel. Daarom is dit ook belangrik om simbole te gebruik in die huis. Illustreer dan hoe dit tuis gebruik kan word hierdie week terwyl jy die simbole uitpak rondom die kruis. Tussen-in is daar vrae wat hulle kan bespreek.
Groot blaar / tak: Vandag is Palmsondag waarop ons Jesus se intog in Jerusalem op ‘n donkie vier. Mense het “Halleluja” uitgeroep en Jesus geloof as Koning. Dink aan een ding waarvoor jy dankbaar is en deel dit met die persoon langs jou.
Kruis: Die kruis is ‘n simbool van Jesus se lyding en kruisiging. Julle kan Maandag ‘n kruis maak en dit in julle huise / vakansieplekke plaas.
Seep en ‘n handdoekie: Dit herinner ons aan Jesus wat die voete van sy dissipels gewas het. Julle kan dit Dinsdag by die kruis plaas. Dink aan iets diensbaar wat jy hierdie week vir iemand anders kan doen en deel dit met mekaar.
Olywe / olyftakkie: Dit herinner ons aan die tuin van Getsemane waar daar baie olyfbome was en waar Jesus gebid het die nag voor sy kruisiging. Julle kan Woensdag ‘n mengelslaai of voorgereg maak met olywe of olyfolie en vir mekaar bid.
Paasbolletjies en sap: Hou ‘n piekniek Donderdag met paasbolletjies en sap en vier só Jesus se laaste ete met sy dissipels voor sy kruisiging. Die kruis op die “hot cross buns” herinner ons aan die kruisiging van Jesus. Die bolletjie en sap herinner ons aan die brood en wyn wat Jesus as tekens van die nagmaal ingestel het. Plaas ook dié simbole by die kruis.
Vis simbool (marshmallow visse / die ichtus teken): Tradisioneel eet Christene vis op Goeie Vrydag, omdat hulle van vleis gevas het. Hou Vrydag ‘n visbraai, eet kerrievis of vis en tjips of braai marshmallow vissies. Daag almal uit om op die internet na die betekenis van die vis simbool “ichtus” te soek. Hulle kan Vrydag ook die woord ‘ichtus’ op ‘n papiertjie skryf en dit plaas by die kruis-uitstalling, asook die . verhaal van Jesus se kruisiging lees in Matteus 27. Met kleiner kinders kan hulle ‘n Kinderbybel gebruik.
‘n Tuintjie: Plaas die bak met plante ook by die kruis. Vra hulle om Saterdag ‘n klein “tuintjie” te maak.
Hol sjokolade Paaseiers: Die leë, hol eiers herinner aan die leë graf. Sjokolade herinner ons aan die “soet” nuus van Jesus se opstanding, hasies herinner ons aan lewe in oorvloed. Op Paasfees kan hulle ‘n skattejag hou vir Paaseiers en die simboliek daarvan weer vir mekaar verduidelik.
Skattejag:
Uitdeelstuk: