Skip to main content
FamiliegewoontesGeloofsgewoontes

Mededeelsaamheid (brood metafoor 3)

By June 27, 2022No Comments

Intergenerasionele erediens wenk

Tema: Mededeelsaamheid (brood metafoor 3)

Hierdie week gesels ons oor die belangrikheid van mededeelsaamheid. Indien jy die leesrooster teks preek (Lukas 10:25-37) sluit hierdie tema goed aan by die verhaal van die Barmhartige Samaritaan.

Ons gebruik tans brood as metafoor in die erediens om te gesels oor waardes soos eenheid tyd met mekaar (verlede week se tema), mededeelsaamheid en die nagmaal.

Benodigdhede: Brode en smere. Reël vooraf dat al die barmhartigheidsprojekte van die gemeente in die bulletin gelys word, sowel as die diensorganisasies wat julle in die dorp of omgewing ondersteun.

Toebroodjies as ‘n simbool van mededeelsaamheid
In die winter dink ons veral aan die mense wat minder bevoorreg is – dié wat honger is, nie slaapplek het nie en koud kry. Daarom kan toebroodjies ons in hierdie tyd herinner om mededeelsaam te wees. Gebruik https://wazimap.co.za om inligting hieroor te kry oor jou spesifieke dorp of area (gebruik die zoom funksie op die kaart). Gebruik die geleentheid om enige projekte van julle gemeente te deel of om aksies te noem waarby gemeentelede betrokke kan raak.

Bid: Bid vir die verskillende barmhartigheidsaksies van julle gemeente en diensorganisasies waarby julle betrokke is (laat elke gesin of persoon een aksie kies om voor te bid vanaf die lys in die bulletin).

Doen: Reël dat families na die diens die brode en smere gebruik om toebroodjies te maak. Reël vooraf waar hulle dit sou kon uitdeel of skenk.

Nog idees vir families:

Idees om ‘n verskil te maak as gesin

Onthou dat Mandela Dag deur Suid-Afrika gevier word op 18 Julie – julle sou in die gees hiervan ook iets spesiaal daarvoor kon reël.

DinkJeug Podcast: Mandela-dag

Hoekom wegskuif van ‘n kindermoment?
Nie alle predikante is werklik goed met kinderpreke nie. Indien die hoofdoel van die kindermoment kennis oordrag is, verwar dit soms kinders as daar 2 lesse elke week is (een in die diens en een in die kategese). Kindermomente kan ook kinders laat voel hulle doel in die erediens is om vermaak te verskaf aan die volwassenes. ‘n Kindermoment fokus verder dikwels op net een ouderdomsgroep (bv. 7-9 jariges), terwyl die ander ouderdomme nie tuiskom nie. Heel dikwels gebruik ‘n predikant ook simboliek of metafore om ‘n ingewikkelde geloofswaarheid te kommunikeer. Dit neem nie altyd die ontwikkelingsfases van kinders in ag nie, want sommige van die kleiner kinders kan nog nie simbolies of abstrak dink nie.

Wat is die alternatief tot kindermomente?
Die naam hoef nie noodwendig dadelik te verander nie, maar begin deur die tyd eerder interaktief in te rig as “omgee-tyd”. Laat kinders met hulle eie ouers gesels en laat die hele gemeente deelneem (nie net mense met klein kinders nie). Gebruik die tyd om geloofsgewoontes in te oefen – om te gesels, mekaar beter te leer ken, saam te bid, ens. Moenie altyd by die preek se teks of tema probeer aanpas nie – gebruik eerder temas soos die kerkjaar, geloofsgewoontes, spesiale biddae, lewensoorgange, ens.

Leave a Reply