Intergenerasionele erediens wenk
Tema: Keuses
Hierdie week gaan oor die maak van keuses as ‘n geloofsgewoonte.
Die wenk sluit losweg by die leesrooster teks (Lukas 12: 49-56) aan, maar kan ongeag van die preektema of -teks gebruik word as intergenerasionele familie- of kindermoment.
Benodigdhede: Kruie en speserye
Vra vir die gemeente om te besluit waarvoor kaneel, kerrie, knoffel e.a. speserye gebruik kan word en waarvoor nie, byvoorbeeld sal jy knoffel-vlokkies op pannekoek sit? Jy kan kinders nooi om aan die kruie te kom ruik en proe.
Maak die punt – Keuses is soos kruie en speserye
Die regte speserye kan gewone kos in koningskos verander! Daar is natuurlik nie net een keuse vir elke kossoort nie, maar daar is wel verkeerde keuses. ‘n Goeie kok weet hoe om die regte soort en hoeveelheid kruie en speserye by ‘n dis te voeg om die beste smake en geure na vore te bring. Net so beïnvloed die keuses wat ons maak die waardes, geluk en prioriteite in ons familie. Die regte keuses kan die beste eienskappe in ‘n familie na vore bring. Die Here lei ons om goeie keuses te maak deur die Bybel, deur sy Gees en deur mekaar te help onderskei.
Bid vir mekaar:
Watter keuses beïnvloed tans jou lewe? Dit kan ‘n kruispad wees of dalk net iets soos met watter dinge jy jou dag vul of watter gewoontes jy tans beoefen / nie beoefen nie. Bid vir mekaar.
Nog ‘n idee: “Sou jy eerder” speletjie
Speel ‘n speletjie met die naam “Sou jy eerder…” Stel telkens 2 opsies waaruit die gemeente moet kies en dan hand opsteek, byvoorbeeld “Sou jy eerder kies om te kan vlieg vir ‘n dag, of kies om onsigbaar te wees vir ‘n dag?” (Gebruik “Would you rather game” as soekfrase op die internet vir vrae.)
Gee bietjie tyd vir bespreking na elke keuse. Maak die punt aan die einde dat daar nie noodwendig altyd regte en verkeerde keuses is nie, maar dat keuses gevolge het, en daarom moet ons dink, gesels en bid daaroor.
Ekstra hulpbronne
Die boek “Ons huis dien – Families leef saam” deur Anriëtte de Ridder en Maartje van der Westhuizen gaan oor 9 familiegewoontes, waarvan een keuses is.
Dit kan bestel word by Takealot: https://www.takealot.com/huisgeloof-reeks-4-ons-huis-dien/PLID72726917
of Bybel-Media: https://eshop.bybelmedia.org.za/product/huisgeloof-reeks-4-ons-huis-dien.