Skip to main content

Intergenerasionele erediens wenk

Tema: Hemelvaart en Pinkster

‘n Intergenerasionele moment in ‘n erediens wil ‘n oomblik skep waar mense (oud en jonk) saam God kan aanbid, hulle ervarings met mekaar deel en nader aan mekaar kom.

Hierdie Donderdag vier ons Hemelvaart en daarna vier ons Pinkstertyd. Gebruik die geleentheid om te gesels oor die kerkjaar en waar dié gebeure inpas.

Hulpmiddels: 50c-muntstukke vir elkeen in die erediens; strelitzia blomme voor in die kerk en/of ‘n foto van die blomme.

Gesprek: Kinders gaan vra die ouer mense in die gemeente wat hulle met 50c kon koop toe hulle jonk was. Kry terugvoer by hulle.

Gebruik ook die kinders om aan elkeen in die diens ‘n muntstuk uit te deel.

50c simbool verduidelik:
Ons kan nie vandag veel met 50c koop nie, maar dit kan ons herinner aan die kerkjaar seisoen waarin ons tans is.

Veertig dae na Jesus se opstanding is sy hemelvaart en tien dae later die koms van die Heilige Gees. Dus: 50 dae na Paasfees is Pinksterfees – ‘n oesfees van die Jode, wat nuwe betekenis gekry het vir die dissipels toe die Heilige Gees op Pinkster uitgestort is (Hand 2:1). In die Griekse Bybel is Pinkster pentekoste wat 50 beteken.

Pinksterdienste of -bidure tydens die 10 dae tussen Hemelvaart en Pinkster het in ons kerk ‘n spesiale karakter verkry as ‘n 10 dae tyd van gebed en afwagting op die Gees wat die kerk nuut maak en uitstuur.

Die blom op die muntstuk:
(Nuwe muntstukke is wel vanaf hierdie jaar in sirkulasie, met die 50c-munt wat dan ‘n loerie sal hê.) 
Die kraanvoëlblom, ook bekend as die strelitzia of paradysblom, is inheems in Suid-Afrika. Die kleure van die blom is oranje of geel. Maar dit lyk ook soos ‘n vlam wat ons kan herinner aan die Heilige Gees wat uitgestort is as ‘n vlam en by elke gelowige is deur elke week.

 

 

 

 

 

 

Gesels met mekaar:
Hoe help die Heilige Gees jou?

Uitdaging: Gebruik die muntstuk om vir iemand anders hierdie week te vertel van Pinkster.

Die argief van intergenerasionele wenke kan gevind word op DinkJeug se tuisblad by die opskrif “Erediens Wenke”.

Leave a Reply