Intergenerasionele erediens wenk
Tema: Ekologie
September is die maand waarin ons lente vier, asook dink oor ons rol in God se skepping. Vandag se tema is ekologie.
Benodigdhede: ‘n bak appels
Raai hoeveel appels
Laat almal raai hoeveel appels in die houer is. Hulle kan dit eers bespreek as families. Jy sou ‘n prys kon gee vir die wat die naaste raai.
Oneindig baie appels (sny ‘n appel oop as illustrasie)
Maak dan die punt dat daar fisies X aantal appels is (tel die appels vooraf), maar elke appel het 5 -13 pitte. As ‘n mens die pitte plant sodat elke pit ‘n boom maak wat appels dra, kan elke pit binne 8 jaar ‘n boom wees wat per boom tot 800 appels per jaar lewer. Daar is dus potensieel (aantal appels) x 10 pitte X 800 appels = ? appels per jaar net vanuit hierdie bak appels! En jaar na jaar soveel appels. En natuurlik kan daardie appels se pitte dan weer geplant word… ens. dus is daar oneindig baie appels (potensieel) in hierdie bak.
Die skepping is ons verantwoordelikheid
Dit is ongelooflik om te dink dat hierdie appels potensieel oneindige aantal appels kan lewer. Die aarde is deur God geskep om vir ons ‘n bron te wees van kos, suurstof, water en al die hulpbronne wat ons nodig het om voort te bestaan. Daarom is dit so belangrik dat ons die aarde oppas (vgl Gen 1:26-28 en Ps 8: 5-9).
Koninkrykstyd en ekologie
In Koninkrykstyd vier ons die koningskap van Jesus as die Here, wat regeer en herskep deur die werking van sy Gees op aarde. Ekologie is ‘n belangrike tema in dié tyd en die groen kleur van Koninkrykstyd herinner ons aan groei, asook aan ons taak om die aarde te versorg.
Uitdaging
Gesels saam in families of in groepies in die banke oor die vraag: Watter 1 ding kan julle ophou doen en watter 1 ding kan julle meer doen om die aarde op te pas?
Ekstra hulpbronne
Die kerkjaar:
KIX – Maak jou eie saadjiepapier: https://kixkinders.co.za/wp-content/uploads/2022/08/KIX-Lentedag-2022.pdf
KIX – Maak ‘n voerbottel of voerhuisie vir voëls: https://kixkinders.co.za/wp-content/uploads/2021/08/Lentedag-2021.pdf
Kyk na die hoofstuk Koninkrykstyd (Ekologie) in “Ons huis onthou – Families Vier Saam” deur Anriëtte de Ridder en Maartje van der Westhuizen wat by Bybel-Media bestel kan word. https://eshop.bybelmedia.org.za/product/huisgeloof-reeks-3-ons-huis-onthou/