Skip to main content

Intergenerasionele erediens wenk

Tema: Biddag vir Jeug en Kategese

Sondag vier ons Biddag vir Jeug en Kategese in NG kerke landswyd. Dit is ook op 16 Junie Jeugdag in Suid-Afrika. Jy sou Sondag al die kinders en jongmense sowel as die kategese leiers na vore kon roep en vir hulle ‘n gebed doen. Onderaan is daar egter meer inhoud wat jy kan gebruik ter aanvulling.

My droom vir SA en gebedswenke skyfies – laai hier af

 

Gebed vir die Kinders van Suid-Afrika
– Anriëtte de Ridder

Here, ons bid vir die kinders van Suid-Afrika.

Ons staan in die skoene van kinders
…wat siek is – mag ons hulle versorg
…wat honger is – mag ons hulle voed
…wat arm is – mag ons meer vrygewig wees
…wat anders lyk– mag ons hulle aanvaar soos hulle is
…wat nie geleenthede ontvang nie – mag ons ongeregtigheid regstel
…wat bang is – mag ons hulle beskerm
…wat hartseer voel  – mag ons hulle troos
…wat eensaam is – mag ons hulle vriende raak
…wat nie ouers het nie – mag ons hulle familie wees
…wat nie in hulleself glo nie – mag ons hulle grootste ondersteuners wees
…wat dink hulle het nie ‘n stem nie – mag ons regtig na hulle luister
…wat hopeloos voel – mag ons hulle raaksien

Here, mag ons in die skoene staan van die kinders om ons as ons vir hulle bid vandag.
Mag ons elke kind se drome aanmoedig, en elkeen die vryheid gee om te groei.
Mag hulle idees en kreatiwiteit ons inspireer om die wêreld ‘n beter plek te maak.
Mag ons kinders se geloof en wysheid erken en by hulle leer.
En Here, help ons om elke kind te omarm met Jesus se liefde.

Amen

Jeugdag
Vertel kortliks dat ons Jeugdag op 16 Junie vier ter nagedagtenis aan die swart jongmense  wat in 1976 ‘n optog gehou het teen nuwe wetgewing wat sou beteken dat hulle nie meer in hulle moedertaal sou kon skoolgaan nie. Hulle het ook gevra vir gelykheid wat betref beter skole en meer handboeke.

Meer oor jeugdag hier: https://af.wikipedia.org/wiki/Jeugdag
Verduidelik dat dit ook vandag belangrik is om te luister na die stemme van die jeug, veral as hulle ongeregtigheid uitwys. Dit sluit ook aan by die leesrooster teks van Psalm 8 (vers 3).

Kinders het ons nodig
Jeugdag herinner ons daaraan dat ons nog baie moet doen om te sorg dat elke kind veilig en gesond is en geliefd voel. Jy sou ‘n paar statistieke kon wys:

  • 38% van SA is onder 18 jaar oud (21 miljoen kinders uit die totale bevolking van 56 miljoen)
  • 59% van SA is onder 30 jaar oud
  • Die gemiddelde ouderdom in SA is 25 jaar
  • Net 42% van SA het lopende water binne in hulle huise en 7% het geen krag nie
  • Daar is 2.2 miljoen weeskinders in Suid-Afrika met geen lewende ouers nie
  • 111 471 huishoudings waar daar net kinders woon (“child-headed households”)
  • 43% van ons land se inwoners het matriek, 72% het graad 9 voltooi
  • 13% van 15-17 jariges werk

Bron: sensus data soos verwerk deur https://wazimap.co.za

Biddag vir Jeug en Kategese
In onlangse Kerkspieël navorsing* (Maart 2022) wat in 20% van die gemeentes in die NG Kerk in Suid-Afrika gedoen is, dui predikante aan dat kinder- en tienerbywoning gedaal het in 50% en 46% van gemeentes onderskeidelik. Anders gestel, in bykans die helfte van gemeentes is daar ‘n afname in bywoning van kinders en tieners na die Covid tyd in vergelyking met getalle voor die pandemie. Hierdie tendens moet ernstig geneem word, en ons sal weer erns moet maak met die verantwoordelikheid om kinders en jongmense se geloof te vorm.

Ons het egter ook die jeug nodig
Ons het jongmense nodig om ons te help om drome te droom oor die land en ons te help om die land (ook gemeenskappe, skole en huise) ‘n beter plek te maak. Deel vooraf die blad “Drome vir Suid-Afrika” uit wat kinders en tieners kan invul. Lees van hierdie drome voor of laat van die tieners dit kom voorlees in die diens.
Die voltooide uitdeelstukke kan na die tyd ook op ‘n aansteekbord vertoon word.

*Bron: (Ongepubliseerd) Die voorlopige verslag van die Algemene Sinode se Taakspan vir Navorsing: Predikantepaneel vir Kerkspieël Maart 2022.

Leave a Reply