Skip to main content
Huisgeloof Argief

Efesiërs 5:8-14

By June 19, 2024No Comments

Dag 1: Jesus se lig is soos… 

Lig en donker 

Ons hier in Suid-Afrika lewe al vir ʼn hele klomp jare met beurtkrag, oftewel load shedding. Oor die laaste paar jaar gebeur dit gereeld dat die krag aan is en alles doodnormaal aangaan en dan, sommer van nêrens af, is dit vlak 6 beurtkrag. Ja goed, ek oordryf bietjie. Maar wat ek daarmee bedoel, is dat die beurtkrag ons baie kere onkant betrap. Dit skop baie kere net mooi die oomblik in wanneer ons fone en rekenaars se batterye amper pap is, wanneer die kopliggies die verste gebêre is en ons die vuurhoutjies op ʼn ander plek gebruik het en nie kan onthou waar nie. 

ʼn Ander ding wat saam met beurtkrag gekom het, is allerhande skelmstreke. Daar was ʼn hele klomp nuusberigte dat wanneer daar vlak 6 beurtkrag is en die krag in plekke 4 ure op ʼn slag af is, dit vir skelms kans gee om koperkabels en ander waardevolle parte uit die elektrisiteitstelsel te steel. Diewe weet ook dat huise se veiligheidstelsels met batterye werk wat op die meeste 2 ure lank kan hou. As hulle lank genoeg wag, kan hulle dan by huise inbreek sonder dat die alarm afgaan.  

So, waar daar nie lig is nie, broei gewoonlik skelmstreke uit. Wanneer daar nie lig is nie, voel-voel ons in die donker en is ons onseker. Waar daar nie lig is nie, gebeur dit maklik dat ons onsself kan stamp en seermaak. 

Die apostel Paulus skryf in Efesiërs 5 oor lig en donker. Hy gebruik ʼn baie bekende prentjie wat Jesus en die ander apostel, Johannes, baie gebruik het. Hy vergelyk ons verhouding met Jesus as ʼn lewe in die lig. In die lig sien ons ʼn klomp goed wat ons nie op ʼn ander manier sou sien nie. Met Jesus se lig sien ons die dinge wat stukkend en seer is in ons lewe. In Jesus se lig kan ons sien waarheen die paadjie gaan wat ons op die oomblik volg. In Jesus se lig kan ons sien wat goed en kwaad is en ons kan sien hoe om reg te maak en rigting te verander.  

Maar kom ons luister eers saam na Efesiërs 5:8-14 (uit die Nuwe Lewende Vertaling) 

‘Julle lewe was vroeër nag! Nou egter, deur julle verbondenheid met die Here, is julle inderdaad die ene lig. Leef dan soos mense van die lig. Uit dié lig kom mos alles wat goed en reg en waar is. Vind uit watter dinge die Here tevrede stel en moenie aanhou deelneem aan die nuttelose werke van die duisternis nie. Nee, ontmasker eerder hierdie werke, want mense doen in die geheim dinge wat te skandelik is vir woorde. Maar as die lig daarop skyn, kom alle dinge se ware karakter aan die lig, en alles waarvan die ware karakter aan die lig kom, is self lig. Daarom sê die lied: “Word wakker, jy wat slaap; staan op uit die dood, en Christus sal jou verlig!” ‘ 

Gesels nou saam oor die volgende vrae.

  1. Vertel vir mekaar hoe jy voel wanneer die ligte afgaan wanneer beurtkrag begin en jy nie daarvoor voorbereid was nie.  
  2. Hoekom is Paulus se voorbeeld van lig en donker ʼn goeie beskrywing vir dinge wat goed en kwaad is? 
  3. In Lydenstyd, hierdie tyd van die kerkjaar op pad na Paasfees, wil ons juis ook toelaat dat Jesus se lig op die donker plekke in ons lewe skyn. Dis op ʼn manier eintlik baie scary, want dit gaan oor al ons foute en seerplekke. Maar, wat dink julle doen Jesus met ons foute en ons seerplekke wanneer Hy dit met sy lig uitwys?   

Gewoonte vir die week: 

Ons gewoonte vir die week is ook elke dag se familiegewoonte en vandag ook ons gebed. Ons gaan elke keer begin met ʼn paar oomblikke van stilte. Doen dit nou saam met my.  

Ek wil julle uitnooi om regop te sit. Steek ‘n kers aan en fokus op die kers se vlam, of jy kan jou oë toe maak.  Haal diep asem.  Trek die lug deur jou neus, stadig, tot onder by jou naeltjie… Hou dit vir ʼn paar oomblikke so… Laat gaan die lug saggies by jou mond weer uit, asof jy dit vrylaat… Probeer in ʼn ritme kom – asem in deur jou neus… hou die lug in jou lyf… laat gaan… 

 Soos jy inasem, herhaal die woorde in jou gedagtes: “Deur U teenwoordigheid…” Want die Bybel stel God se Gees bekend met dieselfde woord wat ons gebruik vir wind, lug, asem… God is teenwoordig in die lug, wat lewe gee. 

Soos jy uitasem, herhaal die woorde in jou gedagtes: “Reinig my gewete…” Want die Bybel herinner ons daaraan dat God se Gees ons deur en deur ken, selfs ons diepste onsigbare dele en dat die Gees alles aan die lig bring. 

Amen 

Mag die Here by elkeen wees en bly. 

Leave a Reply