Dag 1: Jesus is ons Raadsman (Ef 3:7-10)
Geskenke vir die nuwe jaar!
Voorspoedige of geseënde Nuwejaar! Ek kan nie glo dit is ‘n splinternuwe jaar nie. Ja, regoor die wêreld vier mense die nuwe jaar wat aangebreek het. Hulle doen dit oral oor met verskillende tradisies en geregte – luister ‘n bietjie watter een vind jy die interessantste:
In Brasilië gooi jy wit blomme op die see of op ‘n dam om te dryf en die Grieke hang uie op by hulle voordeur as ‘n simbool van groei. In Rusland skryf jy jou nuwejaarswense op ‘n papiertjie, verbrand dit, en drink dan die as van die papiertjie in jou sjampanje. Cheers! In Armenië bak jy brood, in Turkye gooi jy sout en in Japan lui jy klokke vir goeie geluk.
In Skotland moet jy oplet wie heel eerste oor jou drumpel stap, want dit gee vir jou ‘n aanduiding hoe jou jaar gaan lyk. In Denemarke kan jy jou ou borde of koppies stukkend gooi en in Italië moet jy ‘n rooi onderbroek dra.
In Chile hou hulle ‘n nuwejaars erediens in die begraafplaas en in Kanada gaan vang hulle vis in die ys.
En wat eet mense? In Spanje eet jy vir goeie geluk 12 druiwekorrels – om die 12 maande voor te stel.
In Nederland vier hulle die nuwe jaar met oliebolle – amper soos ons vetkoeke, en in Haiti eet hulle sop! In Japan eet jy ‘n spesiale tipe noedel pasta gereg wat krag verteenwoordig.
Watter van hierdie tradisies vind jy die interessantste?
Mense oral oor die wêreld heen wil graag goeie geluk hê en wens dit vir mekaar toe. Die Bybel herinner ons dat ons ‘n groot geskenk van God kry vir die nuwe jaar – goeie geluk, of anders gestel, die goeie wysheid wat ons nodig het vir die komende jaar.
Kom ons lees saam uit Efesiërs 3: 7-10 uit die Bybel vir Almal vertaling
7Nou is dit my werk om die goeie boodskap vir julle te bring. Dit is die present wat God vir my gegee het. God was goed vir my, Hy is sterk en Hy het my verander. 8Ja, God was baie goed vir my. Ek is minder belangrik as al die ander mense wat aan God behoort, maar God het gesê ek moet die goeie boodskap vir die heidene bring. Die goeie boodskap is dat Christus baie goeie dinge vir mense gee, baie meer as wat hulle kan weet. 9God wat alles gemaak het, het eeue lank vir niemand gesê wat Hy wil doen nie, niemand het sy boodskap oor Christus geken nie. Maar nou het God gesê ek moet vir almal help om te verstaan wat Hy doen. 10Daarom kan die kerk nou vir almal en alles wat oor die wêreld wil regeer, vertel van die wonderlike wysheid van God.
Gesels nou saam oor die volgende vrae.
- Hoe vier julle Nuwejaar?
- Dit is dalk ‘n vreemde gedagte dat die Bybel sê ons kry geskenke van God af. Wat is die geskenke wat ons kry?
- Hoe kan hierdie geskenke ons help in die jaar wat voorlê?
Kom ons bid saam.
Bid vir die jaar wat voorlê en vra dat God julle sal lei en help en seën.
Doen nou die volgende saam.
Skryf neer hoe jy graag hierdie jaar wil aanpak saam met die Here. Bêre dié briefie in jou Bybel.
Kom luister die res van die week saam oor hoe die Here ons lei en wat dit te doen het met die wyse manne se besoek uit die ooste!
Die Here seën jou, is by jou, Hy lei jou. Hy is die Raadsman wat vir jou wysheid gee. Amen