Skip to main content
Huisgeloof Argief

Efesiërs 2:19 (Die Boodskap vertaling)

By June 14, 2024No Comments

Dag 4: Doop

Geliefd – ‘n familie wat omgee 

Die meeste mense weet wat ‘n emoji is – dit is ‘n prentjie wat jy kan stuur op jou foon om jou emosie te wys of iets met ‘n prentjie te sê in plaas van woorde. Het jy geweet – elke jaar word daar ‘n toekenning gegee vir die gewildste nuwe emoji van die jaar? Dit word bepaal deur te bereken watter emoji die meeste gebruik is op sosiale media platforms. Emojis wat al in die verlede gewen het, sluit in die rooi hartjie, die vlammetjie, die vraagteken en die gesiggie vol liefde met hartjies daarby.

En vanjaar se wenner is… die gesiggie wat trane terughou. In die tweede plek is die emoji van die twee hande wat ‘n hartjie vorm. Die gesiggie wat smelt is in die derde plek.  

Ek wonder watter emoji jy die meeste gebruik? En as jy ‘n emoji moes kies om te beskryf hoe jy nou voel, wat sou jy kies? 

Druk die pause knoppie en gebruik ‘n foon om elkeen die emoji’s wat jy die meeste gebruik, te deel, sowel as ‘n emoji te kies wat jou gevoel beskryf en dit met mekaar te deel.

Ons het hierdie week gesels oor die doop. Die doop is ‘n simbool daarvan dat ons God se kinders is en deel is van sy familie. As God se familie is dit belangrik dat ons vir mekaar omgee en gereeld “in check” by mekaar. Omgeegesprekke is seker een van die belangrikste bestanddele vir ‘n familie se geluk en opbouende saamwees. In ‘n omgeegesprek voel almal welkom en gelyk. En elkeen kry ‘n kans om te praat terwyl die ander luister. So versterk ons ons familiebande. 

Kom ons lees saam die volgende gedeelte uit Efesiërs 2:19 uit die Boodskap vertaling. 

Die gelowiges is God se familie

19 Julle moet besef wat dit alles vir julle beteken. Vir God en sy mense is julle nie nou meer vreemd of staan julle daar buite iewers nie. Nee, julle is nou in die volste sin van die woord deel van God se mense. Julle is deel van sy familie. 

Gesels nou saam oor die volgende vrae. 

  1. Hoekom dink jy is emoji’s so ‘n gewilde manier om te kommunikeer? 
  2. Watter emoji sou jy kies om die wenner te wees vir die afgelope jaar? 
  3. Van watter familie praat die teks? 
  4. Hoe kan julle in julle gesin, wat ‘n geloofsfamilie in die kleine is, goed wees vir mekaar?

Kom ons bid saam. 

Sit julle hande op mekaar se skouers en bid vir elkeen in julle familie. Bid ook vir die mense wat eensaam voel of hartseer is.  

Doen nou die volgende saam: 

Gebruik die emoji’s om vir mekaar te vertel wat jy die afgelope paar dae gedoen het en hoe dit met jou gegaan het (hoogte- en laagtepunte). Julle kan gerus ‘n emoji kaart uitdruk om gereeld te gebruik wanneer julle in die toekoms omgeegesprekke het. En google gerus die nuutste emoji’s wat uitgekom het. 

Die Here seën jou en beskerm jou, sy Gees is by jou en herinner jou dat jy sy geliefde kind is. Amen 

Leave a Reply