Dag 3: Doop
Geliefd – vier jou doop
Toe ons vir ons jongste seun gedoop het, het ons almal wat ons genooi het na sy doop, gevra om ‘n versie of geskenkie te bring wat hom sou herinner aan sy doop. Een het ‘n koerant van die dag gebring, ‘n ander een ‘n mooi teks ensovoorts. Een van ons familievriende het vir hom ‘n Spur spyskaart en geld gegee, met ‘n opdrag aan ons as ouers: Wanneer hy oud genoeg is, moet ons hom Spur toe neem vir ‘n “kiddies meal”. Ons moet hom daar vertel van God wat soos ons “Big Chief” is wat ons oppas, beskerm en lei. En dat ons doop ‘n teken is daarvan dat God hom al lankal deelmaak van sy “tribe” – en hierdie jaar kon ons dit uiteindelik doen!
Ons moet mekaar gereeld herinner aan wie ons is en aan Wie ons behoort. Veral as ons voel asof ons alleen is, of voel ons maats is nie met ons gaaf nie. Of ons voel doodgewoon en onbelangrik. Dan is dit belangrik om te onthou – jy is God se kind en deel van God se familie. God belowe Hy is altyd by jou en dat Hy jou liefhet. En daarom kan ons elkeen ons doop gereeld vier. En selfs al is jy nie gedoop nie, kan jy hierdie beloftes jou eie maak.
In die brief aan die Efesiërs verduidelik Paulus dat God ons aangeneem het as sy kinders en dat ons deel is van sy familie – anders gestel – dat die “Big Chief” ons reeds deelgemaak het van sy “tribe”.
Kom ons lees saam Ef 1:4-5 uit die Boodskap vertaling:
God het ’n spesiale plan vir ons gemaak
4 Hy het ons wat aan Jesus behoort, gekies nog lank voor die wêreld gemaak is. Ons moet net Syne wees en daar moet niks in ons wees wat Hom ontevrede kan maak nie. 5 Dit alles het Hy uit liefde gedoen. Ja, Hy het vooraf besluit om ons sy eie kinders te maak. Hy het besluit om dit te doen om geen ander rede as dat Hy dit graag vir ons wou doen nie. En dit is nie sommer net ’n storie nie – Jesus Christus het kom sorg dat dit regtig gebeur.
Gesels nou saam oor die volgende vrae.
- Vertel vir mekaar hoe elkeen deel geword het van julle familie.
- Maak beurte om vir mekaar te vertel waarom elkeen ’n spesiale deel van die gesin / huis / groep is. Watter mooi eienskappe het elkeen?
- Paulus gebruik die beeld van ons wat aangeneem is, en deel is van God se familie om ons verhouding met God te beskryf. Hoe laat dit jou voel om dit te hoor?
Kom ons bid saam.
Neem ‘n bak water en plaas dit in die middel van julle huisgesin. Maak beurte om jou hand in die bak water te steek terwyl julle vir mekaar die volgende sê as ‘n seëngebed: “Ons onthou vandag jou doop. Die Here sal altyd by jou wees. Jy is kosbaar vir Hom en vir ons.”
Doen nou die volgende saam:
- Maak ’n gesinskers: Vind uit wanneer elkeen se doopdatum is en skryf dan elkeen se name en doopdatums op ‘n klein papiertjie en steek dit vas aan ‘n groot kers. Indien almal nie gedoop is nie, kan julle ook net elkeen se naam gebruik. Julle kan ook vir elkeen ‘n aparte kers maak. Steek hierdie kers op elkeen se doopviering aan. En stel “reminders” op julle foon sodat julle nie die doopvierings misloop nie.
- Kyk na die kort video in die skakel en gesels daaroor:Julle kan gerus ook kyk na die Afrikaanse video oor Efesiërs van The Bible Project en Your identity in Christ.
Die Here seën jou en beskerm jou, sy Gees is by jou en herinner jou dat jy sy geliefde kind is. Amen