Klik op die blokkies om dit af te laai:
Saamgestel deur Anriëtte de Ridder
1. Gaan stap saam as familie
Die Bybel vertel ons dat Christus die laaste dae saam met sy dissipels deurgebring het, en dat Hy ook saam met sy dissipels voor sy Hemelvaart ‘n berg uitgeklim het, vanwaar Hy opgevaar het. Om dit te herdenk, gaan stap as familie, of pak ‘n staproete of ‘n bergklim aan en help dan kinders om die verband te trek tussen Christus se stap met sy dissipels, die berg en julle eie stappery. Gesels ook oor Christus se laaste boodskap aan sy volgelinge:
– Wat is die “Goeie Nuus” wat Jesus ons opdrag gee om met ander te deel?
– Hoe kan ons die skepping gebruik om vir ander te vertel van die Here?
– Wat beteken Jesus se “Goeie Nuus” vir die skepping – wat is ons verantwoordelikheid teenoor die aarde (ten opsigte van besoedeling, bewaring, herwinning ens.)?
Lees saam Lukas 24:50-53 en seën mekaar.
Nog vrae om oor te gesels:
– As jy op ‘n laaste staptog sou gaan, watter familie en vriende sou jy saambring? Waarheen sou jy gaan?
– Waarom dink jy het Jesus oral geloop? Wat is die verskil tussen stap, om in ‘n motor te ry of om fiets te ry in jou straat?
– Wat beteken nederigheid? Hoe lyk dit in jou lewe?
2. Vlieg saam vlieërs
Een van die groot beelde waaraan ons dink op Hemelvaart, is dié van Christus wat in die hemel opvaar. Die maak en/of vlieg van vlieërs is ‘n prettige manier om hierdie geheimsinnige en wonderbaarlike gebeurtenis te vier. (Daar is aanlyn video’s beskikbaar as julle julle eie vlieërs wil maak). Help kinders om die verhaal van Christus wat in die wolke opvaar, te verbind met die skoonheid van ‘n vlieër wat vlieg. Alhoewel ons wetenskaplik weet hoe vlieërs vlieg, is daar nog steeds iets magies, geheimsinnigs, mooi en spesiaal aan die vlieg van ‘n vlieër en hoe dit heen en weer seil op ‘n onsigbare windjie met die stert wat in die wind draai.
Lees saam Lukas 24:50-53 en gesels oor hoe die dissipels moes voel nadat Jesus na die hemel opgevaar het:
– Watter emosies sou die dissipels gevoel het nadat Jesus opgevaar het? (senuweeagtig, hartseer, opgewonde, geïnspireerd …?)
– Het jy al ooit iets wonderliks of onverklaarbaar sien gebeur? Wat was jou emosies?
3. Hou saam piekniek
Jesus het dit belangrik geag om maaltye met familie en vriende te deel. Hy het nie net gekies om sy laaste nag om ‘n tafel deur te bring, brood te breek en wyn te drink nie, maar Hy het ook verkies om dieselfde te doen in die dae na sy opstanding. En as ons moet leef soos Jesus geleef het, is dit belangrik om ook intensioneel saam te eet in gemeenskap. Jesus en sy dissipels het dikwels in die buitelug geëet, byvoorbeeld toe hulle vis gebraai het op die strand. Daarom is ‘n piekniek die perfekte ete vir julle Hemelvaartfees. Terwyl julle eet, help kinders om die maaltye te onthou wat Jesus met ander gedeel het.
Gesels saam:
– Wat is die betekenis daarvan dat Hy die laaste dae saam met sy vriende gaan stap en gaan eet het?
– Wat sou jy gedoen het in jou laaste dae as jy kon kies?
Lees saam Markus 16:14, 19-20 en Lukas 24:41-43
Nog vrae om oor te gesels:
– Navorsing toon dat dit belangrik is vir gesinne om maaltye om ‘n tafel te deel, sonder selfone, tablette of TV’s. Waarom dink julle is dit so? Sal dit vir julle maklik of moeilik wees om te doen?
– Wat geniet julle die meeste daarvan om saam piekniek te hou, te braai of saam te eet?
– Met wie sou jy ‘n maaltyd wil deel? Watter vrae sou jy aan jou gas stel?
– Watter ooreenkomste is daar tussen die maaltye wat Jesus saam met sy vriende geëet het en die Nagmaal van die Kerk?
Hierdie idees is verkry vanuit ‘n artikel “Celebrating Ascension Day at Home” van Building Faith. https://buildfaith.org/celebrating-ascension-day-at-home/