Skip to main content

Baie min van ons onthou die datum van ons eie of ons kinders se doop. Dit is egter ‘n ideale dag om die doop te vier, as gesin oor die betekenis van die doop te gesels en dit ‘n belangrike deel van jou kinders se geloofsreis te maak. Kontak die kerkkantoor as jy nie jou/jou kinders se doopdatum kan onthou nie, en begin dit vier as ‘n jaarlikse instelling.

Die doop herinner ons dat geloof ‘n geskenk uit genade is. Geloof begin by God wat ons eerste liefhet. Ons moet ook elkeen antwoord op God se uitnodiging om Sy kind te wees. Die doop herinner ons ook om verantwoordelikheid te neem om mekaar (en veral kinders) te help groei in geloof.

Besluit saam hoe julle as gesin elkeen se doopdag gaan vier. Julle kan julle eie unieke doopdag tradisie begin! ‘n Gesin wat ek ken, pak die oggend vroeg alles van daardie kind se doop uit (dooprok, bulletin, kaartjies, foto’s, ens.) en hulle maak die Bybel oop by die gedeelte waaroor gepreek is. Hulle maak dan tyd in die dag om dit te vier deur die volgende te doen:

  • Hulle vertel weer die storie van die kind se doop – wie was daar, waar was dit, wat het gebeur ens. en kyk na die foto’s
  • Hulle lees saam die teksgedeelte van daardie dag se preek
  • Hulle gesels oor die betekenis van die doop
  • Daarna sit die persoon wie se doopdag dit is in die middel en almal loop om hom/haar en “stort” hom/haar met komplimente
  • Daarna gaan hulle uit vir melkskommels!

Volgens hierdie ouers is hulle kinders se doopdag net so belangrik vir hul kinders soos hul verjaarsdag en weet selfs die jongste lid van die gesin wat sy doop beteken.

Hier is ‘n paar idees vir julle gesin:

Wat weet jy van jou doop? Vertel die storie… (of ouers kan dit vertel)

Wat was die hoogtepunt vir jou van ___________se doop? Wat beteken sy/haar doop vir jou?

Lees en bespreek een van die volgende gedeeltes:

  • Deut 6: 4-9
  • Jes 43:1-7 Wat beteken hierdie beloftes vir julle?
  • Luk 2: 21-40 Wat beteken die verhaal van Jesus wat die eerste keer na die tempel geneem en geseën word vir julle?
  • Hand 16: 25-34 Hoe beïnvloed die tronkbewaarder se nuwe geloof sy gesinslede?
  • Die skrifgedeelte van die doop erediens… wat sê God vir julle hiermee?

Maak ‘n scrapbook bladsy / foto collage / rekenaar bladsy van foto’s, die skrifgedeelte en ander aandenkings van die doopdag.

Steek jul hande in ‘n bak water. Wat simboliseer water?

Steek ‘n kers (of doopkers) aan en raak stil. Onthou dat God in elke oomblik van jou lewe teenwoordig is. Wat beteken Sy lig vir jou op hierdie oomblik?

 

Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het. 1 Joh 4:19

Geskryf deur ds Anriëtte de Ridder (Predikant in Sinodale diens vir Jeug- en Familiebediening van die Wes-Kaapland Sinode).