Skip to main content

Hierdie wenke is ‘n uittreksel uit die boek: “Ons huis dien. Families leef saam. 9 familiegewoontes” geskryf deur Anriëtte de Ridder en Maartje van der Westhuizen. Dit is binnekort verkrygbaar by www.eshop.bybelmedia.org.za

Plant kruie
Plant kruie wat julle kan uitdeel as mense kom kuier.

Leer iemand om iets te doen
Leer iemand om iets te doen soos fietsry, brood bak, ‘n rekenaarspeletjie speel of tuinmaak.

Bak koekies
Bak koekies en maak dit in klein pakkies op wat julle vir julle bure versier.

Deel jou glimlag
Deel met soveel moontlik mense met wie jou pad kruis ‘n vriendelike glimlag en groet hulle.

Groet in ander tale
Vind uit watter tale word in jou omgewing gepraat? Dalk ‘n ander Suid-Afrikaanse taal? Dalk praat immigrante in jou omgewing Mandaryn, Frans of Shona? Laai ‘n gratis toep (app) af en leer om te groet en ‘n paar woorde in ‘n ander taal te praat.

Ruil ‘n besitting
Ruil iets uit vir ‘n dag of ‘n week met een van jou familielede. Dalk ‘n speelding, ‘n boek, ‘n geliefkoosde trui. Dit moet vir albei lekker wees om iets met mekaar te deel.

“Deel” woorde
Kyk hoeveel woorde julle as gesin kan onthou wat die woord “deel” bevat. Wat beteken elkeen? En wat beteken mede +deel +saam? Kan julle aan praktiese voorbeelde dink van mededeelsaamheid?

Inspirasie video’s
Kyk kort inspirerende youtube of vimeo video’s saam oor mededeelsaamheid, deur die woorde “share” of “sharing” of “care” of “caring” op te soek.

Mekaar tekste
Soek tekste in die Bybel op wat die woord “mekaar” bevat. Jy kan die soek funksie op die toep of webuiste van www.bible.com gebruik (kies ‘n Afrikaanse Bybel vertaling). Kies een van hierdie tekste om iewers in die huis vir inspirasie op te plak.

Leave a Reply