DinkJeug Podcast: Voel jy uitgeput?
Soos die jongmense sê – ons is nou Oorit! Dalk het jy die lockdown ingegaan vol idees en kreatiewe dinge om jouself en jou gesin gemotiveerd te hou, jy het ‘n paar nuwe resepte probeer, nuwe gewoontes begin inoefen, maar nou het jy jou energie verloor en is dit moeilik om positief te bly.
Luister hier na die podcast:
Daar is baie dinge tans buite jou beheer. Hoe die Covid-19 pandemie jou en jou gesin beïnvloed, is grootliks buite jou beheer. Sommige van ons het finansiële uitdagings, werksverlies, of moet eenvoudig aanpas om tuis te bly, nie skool toe te gaan nie en nie geliefdes of vriende te sien nie. Hierdie ontwrigting het oor ‘n lang tyd baie emosionele kapasiteit van jou geneem. Selfs noudat die lockdown stadig maar seker verbygaan, is die onsekerheid en ontwrigting nog nie verby nie.
Jy mag heel moontlik ‘n paar teenstrydighede beleef:
- Jy voel geseënd met ‘n huis en kos (teenoor soveel ander) maar voel geïrriteerd om tuis te bly
- Jy waardeer tyd met jou gesin, maar jy voel dalk ook die verhoudings word onder ekstra druk geplaas
- Jy is bly om jou kinders terug te stuur skool toe vir ‘n stukkie normaliteit, maar jy is bekommerd of dit die regte besluit is
- Of dalk is die terugkeer skool toe glad nie lekker nie met maskers, afstand ens. nie
- Dieselfde geld met werk… jy is dalk bly om weer te begin, maar stres baie oor die veranderings
- Dalk ervaar jy gesondheidsuitdagings en is jy bewus van jou broosheid
Dit laat my dink aan die verhaal van Elia in die Bybel. Nadat hy die grootste wonderwerke gesien het van hoe God vuur gestuur het toe Elia die Baälprofete aangevat het, en daarna ook weer reën, sou ‘n mens dink die oorwinning is genoeg om hom vir jare op ‘n high te los. Maar toe koningin Isebel hom wil dood hê en hy moet vlug, sink Elia in ‘n depressie, ten spyte daarvan dat hy weet wie God is en wat God kan doen. Dis amper of dit net skielik alles te veel vir hom raak. Julle ken die storie hoe hy slaap en die engel vir hom kos bring. En uiteindelik hoe God aan hom verskyn in ‘n fluistering in die wind. Gaan lees gerus die hele verhaal weer in 1 Konings 19.
Mag jy in hierdie tyd nie te hard wees op jouself nie. Al is jy ‘n geestelike leier, en al weet jy wie God is en wat Hy kan doen, is dit menslik om soms oorweldig te voel. Dit is heeltemal okay om nie okay te wees nie. As jy dalk hierdie week so voel, onthou dat God jou ook dra wanneer jy nie meer kan nie. Kry genoeg slaap, eet gesond, gaan stap ‘n ent, bel ‘n vriend wat jy kan vertrou om mee te gesels. Weerhou jou van nuus lees, en kyk ‘n slag ‘n komedie. En onthou dat God nie net in die groot wonderwerke te vinde is nie, maar ook in die fluistering van die wind.