Dis amper vakansie!! Die karavane word gepak, karre word gediens, blyplek by die see of by die familie is uitgesorteer…
Die realiteit is dat, met al die voorbereiding vir Kersfees, ons van die belangrikste deel van Kersfees vergeet – en dit is om Jesus se koms te vier. Almal gaan nie noodwendig op Kersdag by ’n erediens uitkom nie, maar hier is 10 maklike maniere om Kersdag te vier net daar waar jy is, saam met die mense wat by jou is. En dalk kan julle sommer ’n nuwe Kers-tradisie begin.
Luister die podcast of lees verder…
1. Lees doodeenvoudig die Kersverhaal saam. Julle kan saam lees uit Matteus 1:18-Matteus 2:11 of Lukas 2:1-20
○ Wanneer julle klaar gelees het, laat almal in die groep gesels oor die volgende vrae:
■ Wat het vir jou uitgestaan toe jy weer vandag die Kersverhaal hoor?
■ Waarvoor wil jy God loof en dank hierdie jaar?
○ Sluit dan af met gebed.
2. Maak tyd vir refleksie. Wanneer julle op Kersoggend wakker word, spandeer tyd saam met jou mense en gesels oor die betekenis van Kersfees. Vra almal om aan ‘n paar dinge te dink waarvoor hulle die afgelope jaar dankbaar was.
3. Begin ’n nuwe tradisie waar julle, terwyl julle geskenke uitdeel, een mooi ding moet deel van die persoon van wie die geskenk kom. Julle kan ook deel hoekom julle dankbaar is dat daardie persoon in julle lewe is.
4. Pleks daarvan om julle tot oorlopens toe te eet op Kersdag, skep van julle kos of oorskiet uit in roomysbakke en gaan deel dit uit vir hawelose mense.
5. Nooi ’n alleen mens om saam met julle te kom eet op Kersdag.
6. Kies ’n persoon of instansie waarvoor julle spesifiek wil bid op Kersdag. Skryf dan saam ’n brief vir daardie persoon of instansie waar julle vir hulle sê hoekom julle spesifiek vir hulle bid. Julle hoef eers later die brief vir hulle te gee. Steek ’n kers vir hulle aan, as herinnering dat God ook by hulle is, en dat julle spesifiek aan hulle dink.
7. Hou ’n Kerskonsert. Deel vir elkeen ’n karakter uit wat hulle moet verteenwoordig. Hulle doel is om die Kersverhaal te kom vertel vanuit hulle karakter se oogpunt. Die skaapwagter gaan bv. kom vertel hoe hy in die veld gesit het, en hoe dit was om die engele te sien en die boodskap van Jesus se koms te hoor. Laat elkeen hul eie woorde en uitrusting voorberei.
8. Gaan sing ‘n paar Kersliedere saam vir ander kampeerders of huise in julle straat.
9. Laai die DinkJeug Familie App af op jou playstore, wat elke weeksdag ’n kort dagstukkie podcast het om saam te luister as huis. Maak iewers in die dag 5 minute tyd om saam na hierdie podcast te luister.
10. Gaan kyk op die DinkJeug webtuiste na die verskillende opsies van Adventpakkies. Daar is gesprekskaarte wat huise kan gebruik vir hulle saamwees vir Kersfees.