15 wenke om met jou kind en tiener deur musiek te connect
Ed Sheeran, Ariana Grande, Shawn Mendes, Camila Cabello, Khalid… lui die name ‘n klokkie? Hoe betrokke is jy by jou tiener se musiek keuses en die invloed wat dit op sy/haar gedrag en waardes het?
In 1960 was familie die grootste invloed op ‘n jongmens. In 1980 was dit vriende. Vandag? “Music has become the most effective teachers, preachers and evangelists of our time” volgens Walter Mueller, skrywer van “Understanding Today’s Youth Culture”. Hy skryf verder: “Music sways the lives of teens in two powerful ways: It helps them define what reality and life are, and it affects their behaviour, including language, hair and clothing styles.”
Hierdie is die “Ipod” generasie volgens John Weir, ‘n joernalis wat die invloed van musiek op tieners bestudeer. “Every generation needs a private language that people over 30 can’t translate.”
Maar hoe kan jy jou tiener se taal verstaan deur middel van sy/haar musiek keuses?
- Bly op hoogte van die nuutste bands en liedjies deur gereeld jou tiener uit te vra daaroor.
- Luister saam na sy/haar musiek en gesels na die tyd oor die tema en boodskappe.
- Vra jou tiener wat “doen” die musiek aan hom/haar (gevoelens) en wat die woorde vir hom/haar beteken (gedagtes).
- Gebruik jou tiener se musiek om oor temas soos seks, geweld, groepsdruk, rebellie, familie, spiritualiteit, moedeloosheid ens. te gesels. Praat saam oor die waardes en toepaslikheid daarvan.
- Deel ook jou eie musiek met jou tiener en hoe dit jou beïnvloed of laat voel.
- Doen saam met jou tiener navorsing oor ‘n genre, bands of sangers wat hom/haar interesseer.
- Onthou dat daar ook geestelike musiek in elke genre is – ook punk, hip hop, rock ens. waaraan jy hom/haar kan blootstel.
Hoe kan jy deur musiek met kinders connect?
- Luister as gesin saam na musiek.
- Sing saam en maak saam musiek.
- Moedig jou kind aan om ‘n musiekinstrument te leer speel of koor te sing indien moontlik.
- Dans saam met jou kind, wys hom/haar om hulle lywe te aanvaar en wees saam laf.
- Wissel genres af en leer vir jou kind om musiek te waardeer, asook om dit te beoordeel.
- Gebruik ook musiek om die atmosfeer in die huis/motor te beïnvloed.
- Gebruik musiek as ‘n opvoedingshulpmiddel (temas, woordeskat, stories ens.)
- Gebruik musiek om Bybelstories en geestelike waarhede aan te leer en God te aanbid.
Daarom sal ek sing tot u eer; ek sal nie stilbly nie. Here my God, vir altyd sal ek U loof! Ps 30:13
Geskryf deur ds Anriëtte de Ridder (Predikant in Sinodale diens vir Jeug- en Familiebediening van die Wes-Kaapland Sinode).