Wie is die JVLG?
Die Moderamen van die NG Kerk Wes-Kaapland Sinode het vir die Taakspan Jeug- en Familiebediening opdrag gegee om te kyk na die bediening aan jong volwassenes, omdat dit juis die een ouderdomsgroep is wat die kerk sukkel om te bedien en te behou. Die Jong Volwasse Leer Gemeenskap (JVLG) is einde 2017 gestig en bestaan uit predikante wat met hierdie ouderdomsgroep werk of self jonk is. Die Jong Volwasse Leer Gemeenskap doen navorsing deur te lees wat wêreldwyd oor dié groep en hul geloof en kerkbetrokkenheid bevind is, sowel as om dit te vergelyk met Suid-Afrikaanse navorsing en stories wat versamel word.
Hierdie jaar (2019) is die JVLG uitgebrei deur ‘n Gemeente Netwerk te stig in 3 sinodes, naamlik Wes-Kaapland, Natal en die Oos-Kaap. 30 gemeentes in die netwerk is tans besig om deur ‘n begeleide proses te gaan om vars “uit die boks” bedienings aan, deur en met jong volwassenes te begin wat eksperimenteer met alternatiewe vorms van “kerkwees”. Ons gaan baie by hierdie gemeentes leer oor hoe die kerk van die toekoms gaan lyk.
Wat sê die navorsingsresultate, stories en leeswerk?
Daar is ‘n groot aantal jongmense in elke gemeenskap wat in die kerk grootgeword het. Van hulle is daar ongeveer 60% wat nie meer kerk bywoon of aktief hulle geloof beoefen nie. Hulle word beskryf as jong volwassenes VERDER van die kerk. Hierdie syfer wissel in elke konteks. Dit is nie bloot ‘n fase waarin hulle is wat verby gaan sodra hulle kinders kry nie. Hierdie is die eerste generasie waarvan daar ‘n beduidende groep is wat in die kerk grootgeword het, maar nie weer gaan terugkeer nie.
Die 3 groot redes hiervoor is:
- Soeke na wysheid– Sommige het seergekry in die kerk of is op soek na antwoorde. Hulle soek na die toepaslikheid en sinvolheid van hulle lewe en geloof.
- Soeke na roeping– sommige kan nie hul geloof (en dus ook kerk en die Bybel) aan hulle werk en roeping verbind nie en dit raak dus irrelevant in hulle leefwêreld.
- Soeke na gemeenskap– sommige vind gemeenskap elders – kerk en geloof is dus nie ‘n prioriteit nie.
Uit die groep wat steeds aktiewe Christene is en (soms) kerk bywoon (hulle word beskryf as NADER aan die kerk), is daar ook 3 groepe geïdentifiseer:
- Daar is ‘n groep wat nie meer in die NG Kerk tuiskom nie, maar wel in ‘n ander denominasie ‘n heenkome gevind het. Hiervoor is verskeie redes geïdentifiseer.
- Daar is aktiewe lidmate wat wel in die NG Kerk bly en deelneem aan aktiwiteite. Hulle het egter steeds verskeie behoeftes wat aangespreek moet word, sodat hulle ruimte het om te groei, te aanbid en te dien.
- Daar is ‘n groep lidmate wat passief en onbetrokke Hiervoor is daar ook verskeie redes.
Dit is dus belangrik om nie hierdie ouderdomsgroep te veralgemeen nie. As ons die meerderheid wil bereik, sal ons nuut moet dink oor kerk-wees.
Dan is daar ook ‘n groep wat nie in die kerk grootgeword het nie, waaroor hierdie groep nie navorsing gedoen het nie. Hierdie groep behoort tot ander gelowe, is ongelowig of is nie praktiserende gelowiges nie.
Geskryf deur ds Anriëtte de Ridder (Predikant in Sinodale Diens vir Jeug- en Familiebediening van die Wes-Kaapland Sinode).