Toegerus vir die Toekoms
Kinders as leë houers of klei?
Kinders is nie leë houers waarin ons soveel as moontlik moet gooi nie. Ons kan nie bloot kennis aflaai op kinders en hulle “vul” nie. Hulle is eerder klei wat oor tyd gevorm word. Ons moet eerder daarop fokus om tyd saam met hulle te spandeer en hulle te begelei deur hulle ervarings. Die belangrikste is dat ons verstaan dat hulle van die begin af volledig mens is met volle menswaardigheid. Hulle is nie met ‘n junior weergawe van die Heilige Gees gebore nie. Ons kan dus baie by hulle leer of saam met hulle leer, en nie net vir hulle leer nie.
“Top dog” en “under dog”
Elke mens het ‘n “top dog” stem en ‘n “under dog” stem binne in hulle. Die “top dog” is die reëls wat van buite af ons wil reguleer. Maar die “under dog” wen altyd. Dit is daardie dinge wat jy weet jy nie moet doen nie, maar wat jy wil doen en op die ou end wel doen. Wanneer waardes nie geïntegreer word in kinders se lewens nie, sal die “under dog” op die ou end wen, al vat dit baie lank. Daarom moet ouers en opvoeders dit in gedagte hou wanneer hulle ‘n pad saam met kinders stap. Verhoudings bou is belangrik sodat kinders se waardes oor tyd gevorm word, eerder as wat kinders bloot leer wat die “top dog” reëls is.
Heilige ruimtes
“As twee mense ontmoet is daar ‘n heilige ruimte tussen hulle.” Siegfried Louw
Hierdie ruimte tussen mense beskryf die unieke verhouding of “ruimte” tussen twee mense. In hierdie ruimte moet jy die ander persoon, ook ‘n kind, se menswaardigheid respekteer en as ‘n gelyke hanteer. God se beeld is in elke mens teenwoordig. Die persoon wat die beste weet hoe ‘n kind se kop werk, is daardie kind self. Jou “werk” is om die kind die veilige ruimte te bied om deur sy/haar vrae en ervarings te werk en ‘n veilige ruimte te bied vir die kind se eie introspeksie.
Broosheid en egtheid is belangrik
Soms werk die lewe buite ons reëls en strukture. Partykeer val elke plan en strategie plat. Al wat dan oorbly is twee brose mense wat saam in ‘n heilige spasie is, en daardie spanning moet eer. Om eg te wees (op ‘n toepaslike wyse) oor jou eie onsekerhede, vrae en emosies, wys vir jou kind hoe om mens te wees. Om sáám met jou kind, of die kind wat jy mentor, te soek vir antwoorde en sáám die lewe te leef, is meer werd as kits oplossings of arrogante raad.
Opgesom deur Anriëtte de Ridder en Luané McLachlan na aanleiding van die aanbieding “die binnewêreld van ‘n kind” deur Siegfried Louw (spel terapeut)”. Hy het as spreker opgetree by die Kinderkonferensie met die tema “Toegerus vir die Toekoms” gehou in September 2018 te Kuilsrivier, Kaapstad.