Vir ouers laat die woord “tegnologie” dikwels gevaarligte flikker. Maar tegnologie is nie net sleg nie. Met die regte roetekaart kan dit opbouend in gesinne gebruik word.
Daar is 4 G’s om in gedagte te hou:
- Gesonde gebruik
- Gelukkige verhoudings
- Gawe interaksie
- Grense wat gepas is
Gesonde gebruik
Tyd voor die skerm asook die inhoud waarna kinders kyk, kan kinders se ontwikkeling, aandagspan en gedrag negatief beïnvloed. Die navorsing hieroor is volop en oortuigend. Daarom moet die aantal skermtyd en die inhoud daarvan ouderdomsgepas wees. Daarby saam is dit belangrik vir kinders (en ouers) om ‘n gesonde slaappatroon te hê wat ononderbroke slaap insluit. Dit beteken dat skermtyd voor slaaptyd beperk moet word en dat ‘n mens nie in dieselfde vertrek as jou foon moet slaap nie.
Gelukkige verhoudings
‘n Gesonde selfbeeld en oop kommunikasie help ook dat kinders beter gepantser is om die uitdagings van tegnologie te hanteer. Versterk jou kind se selfbeeld met opregte komplimente en spandeer kwaliteit tyd saam om jul verhouding te versterk. Help ook jou kind om emosies te verwoord. Maak familietyd ’n prioriteit en skep daaglikse en weeklikse gewoontes soos om saam te eet en in die natuur te gaan stap.
Gawe interaksie
Oormatige skermtyd verlaag empatie en in ‘n tegnologie-oorheersde samelewing het dit aanlyn boeliegedrag en afbrekende kommunikasie tot gevolg. Bevorder waardes soos respek vir alle mense en leer kinders om opbouend te kommunikeer, al is dit “gesigloos” op sosiale media. Gesels met hulle daaroor dat alles wat aanlyn gebeur ‘n spoor laat.
Grense wat gepas is
Raak deel van jou kind se tegnologiese wêreld sodat jy kan saam praat. Neem leiding en wees ‘n voorbeeld. Weerhou tegnologie van die kind se slaapkamer en hou dit sentraal in die huis. Leer jou kind waarvoor om “nee” te sê. Wanneer jy aktief betrokke is by tegnologie en self die gevare kan raaksien, sal dit makliker wees om dit vir jou kind uit te wys. Stel ouderdoms gepaste ouerkontroles en veiligheidsmaatreëls op alle toestelle. Stel saam huisreëls op. Kinders wat in koshuise woon of hulle eie fone / tablette het, moet ook inkoop op die huisreëls oor die gebruik daarvan.
“…alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig.” Fil 4:8
Geskryf deur ds Anriëtte de Ridder (Predikant in Sinodale diens vir Jeug- en Familiebediening van die Wes-Kaapland Sinode)