Aswoensdag val altyd op ‘n Woensdag aan die begin van die veertig dae van Lydenstyd in die Kerkjaar. Lydenstyd strek vanaf Aswoensdag tot Stil Saterdag, die dag voor Opstandingsondag. Indien die Sondae in hierdie tyd uitgesluit word, is dit ’n tydperk van 40 dae, dieselfde aantal dae wat Jesus in die woestyn deurgebring het. Sondae was nog altyd vieringsdae vir die kerk en daarom nie deel van die vastyd van Lydenstyd nie.
Aswoensdag (en Lydenstyd wat daarop volg) is tradisioneel ’n tyd van geestelike vernuwing in die lewe van gelowiges en gemeentes. Die 40-dae tydperk voor Opstandingsondag is reeds in die jaar 313 n.C. as ‘n amptelike viering op die Christelike kalender aangedui. In Lydenstyd doen gelowiges selfondersoek en beoefen ons geloofsgewoontes soos vas, bid en om ander te dien. Deur dit alles berei ons voor vir Paasfees, wat die hoogtepunt van die kerklike jaar is.
Die gebruik met Aswoensdag is dat die palmtakke van die vorige jaar se Palmsondag verbrand word, en die as daarvan met olyfolie gemeng word. Dit word gebruik om die vorm van ‘n kruis op die voorkop van elkeen te “teken” met die woorde: “Mens, dink daaraan dat jy stof is en tot stof sal terugkeer.” As in die Bybel simboliseer gebrokenheid, broosheid, en rou. Dit herinner ons daaraan dat alhoewel ons God se kinders is, is ons mens. Die as-kruis bring ons letterlik terug aarde toe – soos Gen 3:19 ons herinner. Ons is koningskinders, gemaak uit as en stof, soos Abraham gesê het (Gen 18). Ons is sondig en gebroke. Maar die goeie nuus is dat die as in die vorm is van ‘n kruis. Dit herinner ons dat Jesus in ons plek gesterf het en ons vrygemaak het. Hy het die dood oorwin. Daarom “vier” ons Lydenstyd. Ons dink aan Jesus se lyding, maar vier ook sy opstanding.
Sommige kerke vier ook tradisioneel “Pancake Tuesdays” op die dag voor Aswoensdag, want in die ou dae was dit die laaste dag van lekkernye voor mense begin vas het. Die pannekoek-eet en lui van kerkklokke het hulle herinner om sondebelydenis te doen voor die 40 dae aangebreek het.
Baie keer word daar gevra dat jy in Lydenstyd iets moet opgee, om jou daaraan te herinner dat jy besig is met ‘n voorbereidingstyd. Die ou gebruik herinner ons aan Jesus se 40 dae in die woestyn sonder kos. Mense gee soms goed op soos koffie, sosiale media, sjokolade of vleis. Jy sou ook iets kon byvoeg soos om vroeër op te staan om te bid of elke week tyd in te ruim om iets diensbaar te doen. Die vastyd word begin op Aswoensdag en dit duur dan vir 40 dae tot Paassondag (uitgesluit die Sondae).
Wat jy ook al besluit, dis altyd goed om net weer ekstra aandag te skenk aan jou verhouding met God. Wat is die dinge wat vir jou belangrik is? Het jy dalk swak gewoontes aangeleer wat jy moet afleer? Is dit dalk ‘n tyd vir introspeksie of groter eenvoud? Moenie iets doen wat te moeilik is om vol te hou nie, doen eerder iets wat vir jou betekenis het, en wat jou help om te groei.
Doen
Vier Aswoensdag saam as gesin deur ‘n kruisie op elkeen se voorkop te maak met die woorde: “Jesus het jou lief. Hy het vir jou gely.” Julle kan vooraf ‘n mengsel van as en ‘n bietjie lyfroom / olyfolie voorberei daarvoor.
Gesels:
- Kan jy aan nog gebeure in die Bybel dink wat in 40 dae gebeur het?
- Wat sal jy graag in die volgende 40 dae wil anders doen, ophou doen of meer doen?
- Aswoensdag herinner ons daaraan dat ons nietig is (van stof gemaak) en aan Jesus se diensbare liefde aan die kruis. Wat beteken dit vir jou dat Jesus vir jou gely het?
- Hoekom dink jy maak mense as-kruisies op mekaar se voorkoppe?
Bid
Here Jesus, dankie dat ons vandag u liefde vir ons elkeen kan vier. Dankie dat U vir ons gely het en vir ons ‘n voorbeeld van diensbare liefde is. Amen