Skip to main content

Hierdie tyd van die jaar word ons in winkels oorval met Kersversierings en spesiale Kersaanbiedinge. En ons kla dikwels: “Dis nog so lank voor Kersfees, hoekom is daar al Kersversierings?!” Maar tog skep hierdie vroegtydige tekens van Kersfees bietjie opgewondenheid by ons en laat ons uitsien na Kersfees.

En dit is presies wat Advent is. Advent skop af vier Sondae voor Kersfees, en die woord Advent kom van die Latynse woord “Adventus” af wat beteken “om te kom”.

In hierdie tyd dink ons aan Jesus se verskillende “komse” in ons lewens. Ons dink aan Jesus wat duisende jare terug gebore is as ons Verlosser, ons dink oor hoe Jesus elke dag kom in ons lewens en ons dink aan sy wederkoms. Ons doen al hierdie dinge om ons voor te berei vir Kersfees, die Christusfees.

In Suid-Afrika gaan die betekenis van Advent maklik verlore tussen al die afsluitingsfunksies, gejaag van die vakansie en voorbereidings vir die feestyd. Tog bied die Adventstyd ons die geleentheid om van die haastige kommersialisme voor Kersfees te ontsnap en ons voor te berei op die wonder en misterie van Christus se menswording.

Waar kom die tradisie van Advent vandaan?

Die voorbereiding vir Kersfees het ‘n lang tradisie. Reeds so vroeg as in die vierde eeu nC is daar in Spanje en Frankryk begin met liturgieë wat dui op die kerklike voorbereiding vir Kersfees. Gregorius die Grote was die eerste persoon wat die lengte van Advent vasgestel het op vier weke. Die tema van die Tweede Koms van Christus was altyd dominant in hierdie kerklike seisoen. Tot so laat as die twaalfde eeu was dit beskou as ‘n tyd waarin wit klere gedra is en die “Gloria in Excelsis” gesing is.

Hoe kan ons Advent vier?

Maak ’n Adventskrans. ’n Adventskrans bestaan meestal uit krans gemaak van stokkies en takke met blare met vier kerse en ‘n groter wit Christuskers in die middel. Drie van die kerse is pers of donkerblou en ‘n vierde rooskleurig. Elke Adventsondag word ’n kers aangesteek, terwyl die vorige kers steeds brand. Die kerse is ook nie net sommer daar nie.
Elke week se kers simboliseer iets:
1: Hoop
2: Vrede
3: Vreugde (pienk)
4: Liefde

So brand al vier kerse tydens die vierde Sondag, terwyl die groot wit Christuskers in die middel op Kersdag aangesteek word. Die kerse herinner ons ook dat Jesus die lig is wat aarde toe gekom het, en dat ons nou ook sy lig deur ons moet laat skyn.

Die volgende tradisie doen baie huise reeds, sonder dat hulle eers besef dit is ’n Adventviering. En dit is die tradisie van ‘n Adventskalender. ‘n Adventskalender help ons om die dae af te tel na Kersfees toe, en bring dus ook iets tuis van afwagting en ‘n geduldige wag waarvan Advent die betekenis dra. Een van die gewildste vorme van so ‘n kalender is die sjokolade kalender waar mens elke dag ’n venstertjie oop maak, en daar wag jou sjokolade vir jou, totdat jy by Kersfees kom. Tog kan so ’n kalender enige vorm aanneem.

Die gebruik van die Kersboom is baie bekend. Tog het dit ‘n sterker godsdienstige betekenis as wat die meeste mense vermoed. Ons slaan elke jaar ’n Kersboom op. Maar weet ons hoekom? Die Kersboom het verskeie betekenisse: dit verwys terug na die boom van die lewe in die tuin. Die boom herinner ons so aan die skepping, asook dat Christus weer sal kom om die skepping te verlos (Rom 8:19- 20). Die Kersboom kan ook verwys na die tradisie van die Isai-stomp wat aansluit by die teksvers uit Jes 11:1, waar ons lees dat ‘n takkie uit die stomp van Isai sal uitspruit. Volgens tradisie word die stomp van Isai (ook genoem die familieboom van Jesus) gesimboliseer deur ‘n droë stomp met ‘n rooi lint daarom. Die voorbereiding en versiering van die Kersboom kan iets van die voorbereiding en wag op die koms van die Koning weerspieël.

Mag ons almal dan nou opnuut besef waaroor Kersfees gaan: Dit gaan nie oor die geskenke en die versierings nie. Dit gaan oor die geboorte van ons Here Jesus Christus. Maar onthou, hieraan kan ons elke Sondag dink. Trouens, ons moet elke dag van ons lewens hieraan dink.

Leave a Reply