Skip to main content

Party gemeentes het min kinders, hoe nou gemaak? Een oplossing wat soms voorgestel word, is dat ‘n mens dan minder moet bymekaarkom (bv. elke tweede week), maar dit het gewoonlik die teenoorgestelde uitwerking en die getalle raak dan nóg yler. Sommige gemeentes gooi groepies weekliks lukraak bymekaar (afhangende van watter kategeet opdaag) sodat daar darem ‘n groot groep is om voor kategese aan te bied, maar dan is daar weer min verhoudingsbou wat plaasvind.

Daar is egter waarde aan klein groepies wat nie misgekyk moet word nie. Ek was self in ‘n kategesegroep van 4: ek, 2 seuns en my pa wat ons kategeet was. Dit was nie aldag lekker nie (veral nie as die 2 seuns nie opgedaag het nie), maar dit was beslis dieper en van meer betekenis as baie ander mense se Sondagskool ervarings. Daar is nooit vir my “klas” gegee nie, ons het altyd ontspanne gesels en was vry om vrae te vra. Dit was wel lekker om soms saam met die ander groepe aktiwiteite te doen, soos om waatlemoenfees, konsert of speletjiesaande te hou. Maar die waarde van ‘n klein kategese groepie sal my altyd bybly.

Hier is 4 dinge wat kleiner groepe beter maak:

  1. Kleiner groepe beteken jy kan dieper verhoudings bou met elkeen in jou groep en met hulle gesinne:
  • Ken jou groep se name, leer ken hulle en hul gesinne persoonlik
  • Vra gereeld uit oor hulle belangstellings en uitdagings
  • Wees bereid om van jouself te gee en ook saam te speel, te lag en te leer
  • Hou heel week kontak met hulle (ook met jou selfoon)
  • Maak moeite om hul sport of ander aktiwiteite te ondersteun
  • Besoek hul tuis
  • Nooi die groep na jou huis sodat hulle jou en jou gesin beter kan leer ken
  • Wees daar vir hulle in moeilike tye
  • Ken hulle ouers/voogde op hul name en betrek hulle
  • Bid gereeld vir elkeen
  1. Kleiner groepe bied meer geleentheid vir individuele dissipelskap en mentorskap van elke kind of tiener:
  • Skep ‘n gemaklikheid en fasiliteer ‘n gesprek eerder as om die groep te “leer”
  • Neem tyd om elkeen se opinie te hoor
  • Oefen geloofsgewoontes in kategese-tyd
  • Skep ‘n openheid vir eerlike gesprek, teenstrydighede en moeilike vrae
  • Spandeer alleen tyd met elke groeplid
  • Hanteer elkeen se geloofsreis as uniek
  • Wees eerlik oor jou eie geestelike reis
  1. Kleiner groepe beteken daar is tyd en geleentheid vir geloofsvorming op verskillende maniere en op verskillende plekke:
  • Elke week kan ‘n ander fokus hê
  • Spandeer tyd saam op ander maniere – maak saam kos, kamp saam en speel saam
  • Eksperimenteer met verskillende geloofsgewoontes bv. stilte, meditasie, gebed, ens.
  • Skep meer geleentheid vir uitreike en diensgeleenthede
  • Spandeer tyd in die natuur
  • Skep geleentheid vir musiek, aanbidding, om kreatief te wees en gebed
  1. Kleiner groepe beteken dat dit moontlik is dat elke kind / tiener by die groter gemeente betrokke kan wees:
  • Skep ruimtes vir verskillende ouderdomme om mekaar se geloof te vorm
  • Betrek hul by die erediens
  • Vier die kerkjaar saam in die groter gemeente en in gesinne
  • Elke kind kan ‘n “ouma of oupa” kry vir wie hul wedersyds kan omgee
  • Laat kinders inter-ouderdom diens doen in spanne
  • Gee weekliks wenke vir huisgeloof
  • Laat die gemeente gereeld hoor waarmee die kinders/ tieners besig is (getuig daaroor, wys foto’s, ens.)

As min opdaag, gebruik die geleentheid en laat dit in jou guns tel. Moet nooit ‘n ontmoeting afstel omdat julle “te min” is nie, of jou groep by ‘n ander groep voeg “om moeite te spaar” nie.  Elke kind/tiener is ‘n gawe, en tyd met hulle is kosbaar. Geniet dit!

N.S. Kleiner groepe is ook minder intimiderend vir persone met min ervaring (of introverte) wat dalk dan makliker sal kans sien om groepleiers te wees.

Mag jy ook soos Paulus kan sê: “Volg my voorbeeld, soos ek die voorbeeld van Christus volg.” 1 Kor 11:1

Geskryf deur ds Anriëtte de Ridder, predikant in diens van die Wes-Kaapland Sinode met opdrag Jeug- en Familiebediening.